Lewenslank vir rower wat moor

Die rooftog het in 2017 by die Nyanga Junction plaasgevind. (Foto: SA Polisie)

ʼn Gewapende rower is lewenslange tronkstraf opgelê vir moord ná ʼn gyselaarsdrama in Nyanga meer as vier jaar gelede.

Mzimasi Marasha (34) is lewenslange tronkstraf opgelê vir sy aandeel in die misdaad. Benewens die lewenslange tronkstraf wat die hooggeregshof in Kaapstad Marasha opgelê het vir moord, is hy ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vyf jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Staatsaanklaer Alfred Isaacs het gesê die openbare belang moet in die vonnisoplegging van dié “gevaarlike misdadiger” weerspieël word.

Marasha en sy makkers het op 1 Mei 2017, gewapen met vuurwapens, veiligheidswagte naby die ingang na die Shoprite-winkel by Nyanga Crossing gedreig en beveel om hulle in die winkel toe te laat.

Daar het hulle die wagte en werkers gyselaar gehou. Die winkelbestuurder is gedwing om die kantoor waar die kontant gehou word, oop te sluit en ʼn bedrag geld, wat vir Sassa-uitbetalings gebruik sou word, is gebuit.

Die boewe het rekenaartoerusting, selfone en werkers se klere gebuit.

Volgens die staat het die winkelbestuurder ʼn veiligheidsmaatskappy in kennis gestel wat op hul beurt die polisie ontbied het.

ʼn Skietery wat minstens 45 minute lank geduur het, het tussen die rowers, die veiligheidsmaatskappy en die polisie uitgebreek.

Marasha is gewond en is op die toneel in hegtenis geneem en onder polisiebewaking vir behandeling geneem.

“Sy DNS is gevind op ʼn keps wat op die toneel was,” sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap.

Nog ʼn rower wat in ʼn dak geskuil het, is doodgeskiet.

Isaacs het tydens strafverswaring ʼn misdaadontleder van Shoprite geroep om te getuig. Dié het aan die hof gesê daar was in die spesifieke boekjaar 186 gewapende rooftogte by Shoprite-winkels en agt mense is in die onderskeie voorvalle dood.

Hy het aan die hof gevra om ʼn lewenslange vonnis op te lê omdat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede is om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Hy het voorts aangevoer Marasha het geen berou getoon nie.

Volgens die polisie het nog een van die rowers destyds ontsnap.

Die Wes-Kaapse polisie het sers. Luvuyo Maki, ondersoekbeampte verbonde aan die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, geloof vir sy toewyding en sê Maki het elke moontlikheid ondersoek om te verseker Marasha word uit die samelewing verwyder en boet vir sy gruweldade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Net ‘n jammerte lewenslank is nie fisies lewenslank nie. Hoop nie die knaap kom in aanmerking vir parool nie!!!

Mariana ·

4jaar om saak op te los. Genade!!!Persheks Adri parool sal hy sekerlik kry…..oor paar jaar.

Persheks Adri ·

Dit maak my moedeloos Mariana. Dan is hy uit om wéér dieselfde of erger te doen maggies!

Winnie ·

Nou gaan hy warm bed kos en gratis mediese behandeling in privaat hospitale kry op beladting inkoste. Dit maak mens siek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.