Lewenslank vir stiefpa met MIV wat dekade lank verkrag

(Argieffoto)

WAARSKUWING: Die inhoud van hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

’n Man is in die hooggeregshof in Grahamstad lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sy stiefdogter tien jaar lank verkrag het – dít met die wete dat hy MIV-positief is.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê die 11-jarige meisie het in 2008 by haar ma en stiefpa in Queenstown ingetrek waarna die stiefpa haar seksueel begin aanrand het.

Die meisie het ses jaar later, in Junie 2014, in ʼn verhouding betrokke geraak. Dit het die stiefpa só kwaad gemaak dat hy die meisie na ’n kliniek geneem het vir gesinsbeplanning en haar toe ʼn week later begin verkrag het terwyl haar ma by die kerk was.

Die meisie se ma het gedurende die Desembervakansie in 2015 by familie in Port Elizabeth gaan kuier en die stiefpa het van die geleentheid gebruik gemaak om die meisie die betrokke vakansie herhaaldelik te verkrag voordat haar ma in Januarie 2016 teruggekeer het.

Die verkragtings het tot 2018 voortgeduur totdat die meisie uit die huis getrek en vir opleiding by die polisiekollege gegaan het. Sy is egter weer verkrag wanneer sy by haar ouerhuis gaan kuier het.

Die stiefpa het gedurende só ’n besoek in September 2018 ’n foto van haar kêrel op haar selfoon gesien. Hy het haar na ’n beboste gebied geneem waar hy haar met die vuis en ’n stuk hout aangerand het. Sy is later die dag weer bygedam en het ’n fraktuur aan haar pols en kneusplekke aan haar onderlyf opgedoen.

Die meisie is later terug na die kollege waar sy ’n polisiebeampte eindelik van die verkragting en aanranding tuis vertel het.

Daar is gedurende die stiefpa se verhoor aangevoer dat hy die verkragtings beplan het.

“Hy sou in die meeste voorvalle seker maak dat hy alleen was met die klaagster en haar verkrag,” het adv. Sakhumzi Mtsila gesê.

Mtsila het verder gesê die stiefpa het die meisie van haar ma vervreem, haar vertroue gewen en toe die vertroue misbruik. “Die klaer het hom as haar eie pa beskou.”

Die stiefpa is lewenslange tronkstraf opgelê asook ʼn verdere tien jaar tronkstraf vir poging tot moord aangesien hy sy stiefdogter verkrag het met die wete dat hy MIV-positief is.

Die stiefpa is nóg vyf jaar tronkstraf opgelê vir aanranding met die doel om ernstig te beseer asook 12 maande vir aanranding.

Sy aansoek om verlof tot appèl is afgekeur.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JM ·

Ek moet liewer niks sê nie, want ek sal toegesluit word. Mag hy verrot in die tronk!

Genis ·

Dis skokkend om die minste te se… so n wreedaard moet vir ewig uit die samelewing verwyder word.. al wat ek kan se: “My God have mercy on you rotten sole”

Sarel ·

Plus soveel plus nog plus nog betekrn boggerol. In SA dien jy aaneenlopend en kry parool voir helfte van vonnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.