Lewenslank vir voormalige tesourier

Vincenzo Pietropaolo Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof. (Foto: Verskaf)

Die voormalige tesourier van die Suid-Afrikaanse Bank van Athene, Vincenzo Pietropaolo, is Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof tot twee keer lewenslank en ’n verdere 26 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy pa en vervreemde vrou.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die hof het bevind Pietropaolo (65) het in Maart 2017 sy pa, Pasqualino, in sy slaap doodgeskiet waarna hy in November van daardie jaar sy vervreemde vrou, Manuela Giuliana Pietropaolo, nege keer geskiet het.

Regter Ratha Mokgoatlheng het hom skuldig bevind op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie sowel as regsverydeling.

Dít nadat Pietropaolo se motor se opsporingstoestel hom destyds in die omgewing van die misdaadtoneel geplaas het en forensiese ballistiese toetse die vuurwapen wat destyds tydens sy inhegtenisneming in sy besit gevind is met die moord op Pasqualino verbind is.

Wat die moord op sy vervreemde vrou betref het Pietropaolo beweer dat hy destyds dokumente by haar huis gaan haal het toe sy hom na die voordeur geroep het. Hy het beweer dat ʼn argument tussen hulle ontstaan ​​het, dat sy hom uitgelok het en hy uit woede skote afgevuur het.

Die staatsaanklaer was egter nie oortuig nie.

“Die beskuldigde het ʼn weerlose man van 90 jaar vermoor wat nooit enige weerstand kon bied nie. Hy het nege koeëls op sy vervreemde vrou afgevuur. Wat ontmoedigend is, is dat die beskuldigde geen berou getoon het nie. Dit is een van die ergste moordkategorieë. ʼn Pa wat sterf aan die hand van sy eie seun en ʼn vrou wat sterf aan die hand van haar man,” het staatsaanklaer Lwazi Ngodwana gesê.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die regter het opgemerk dat Pietropaolo ten spyte van sy ouderdom en met inagneming van die afskuwelike manier waarop albei slagoffers vermoor is en die feit dat die beskuldigde geen berou vir sy optrede getoon het nie, ’n lewenslange vonnis opgelê moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annelize ·

Ja, en nou gaan hy lekker op die reeds oorbelasde en uitgemergelde belastingbetaler se nek le in die tronk.

Die doodstraf sou ongetwyfeld hier van pas gewees het.

Boer ·

Dit is reg as jy wil moor dan moet jy sit, ongeag of jy wit of swart is jy moet maar gaan sit. Jammer dood straf is nie meer daar nie.

Sêmanet ·

Was hy nie veronderstel om tussen Maart en Oktober reeds in aanhouding gewees het nie? As hy Maart al sy pa geskiet het, waar was hy tot Oktober wanneer hy sy vrou kon skiet?

Hennie J ·

Iewers het iets vreeslik verkeerd gegaan in hierdie ou se boonste verdieping. Hoop sy lewenslange vonnis is net dit wat hy nodig het.

Gert ·

Net jammer die belastingbetalers moet vir hom sorg in die tronk. Plaas hulle die kriminele aanwend om paaie reg te maak dan werk hulle ten minste vir hulle kos

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.