Lewenslank vir vrou wat ekskêrel se kind vermoor

Nompumelelo Portia Nkambule [Foto: Verskaf]

Nompumelelo Portia Nkambule (37) het tot en met haar verhoor volstrek ontken dat sy haar ekskêrel se driejarige kind vroeër vanjaar doodgemaak het. Sterk bewyse teen haar het egter haar skuld bevestig en sy is Vrydag in die hooggeregshof in Mpumalanga tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het Collen Nkosi sy driejarige dogtertjie, Philisiwe Charlotte Nkosi, tussen Desember verlede jaar en Februarie vanjaar by Nkambule laat bly terwyl hy bedags werk gaan soek het.

Philisiwe se biologiese ma is in September verlede jaar dood. Nkosi en Nkambule het drie maande daarna in ʼn romantiese verhouding betrokke geraak.

“Terwyl Philisiwe in die sorg van Nkambule was, het sy gesukkel om te ontlas en lyk dit asof sy nie geweet het hoe om ʼn potjie te gebruik nie. Elke keer wanneer sy haar broek vuilgemaak het, het Nkambule haar met ʼn boomtak op haar lyf geslaan. Dit het herhaaldelik gebeur,” bevestig Nyuswa.

“Philisiwe het veelvuldige beserings aan haar lyf en agter haar kop opgedoen. Weens die beserings het haar organe ingegee en sy het een dag beswyk.”

ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen en Nkambule is gevolglik in hegtenis geneem.

“In die hof het Nkambule nie skuldig gepleit nie en ontken dat sy vir die kleuter se dood verantwoordelik is.”

Die staatsaanklaer, adv. Tula Bekwa, het na aanleiding van die ondersoekbeampte se bewyse getuig dat Philisiwe se pa tydens ondervraging bevestig het dat Philisiwe geen beserings gehad het voordat Nkambule haar begin oppas het nie.

Sy getuienis is ondersteun deur die getuienis van Nkambule se dogter wat twee keer gesien het hoe haar ma Philisiwe met ʼn boomtak bygekom het. Sy het gesê dat sy die oorledene op die grond sien val het.

Die dokter wat die nadoodse ondersoek behartig het, het ook getuig dat Philisiwe bloeding op die niere opgedoen het en daaraan dood is.

Nkambule is op grond van bogenoemde getuienis en bewyse skuldig bevind aan moord.

Bekwa het ʼn slagoffer-impakverklaring ingedien waarin Nkosi gesê het dat hy vertroue in die mensdom verloor het toe sy kind in die hande van die persoon wat hy die meeste vertrou het, gesterf het. Hy het bygevoeg dat die dood van sy kind hom geestelik en fisiek aangeraak het.

Die waarnemende regter, Ntombizanele Ndlokovana, kon geen afdoende rede vind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Sy het Nkambule tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

What? Dat iemand so wreed kan wees. het die pa nie agter gekom sy kind doen beserings op nie?

Johanna

Hoe wreed en verskriklik hartseer. Arme kindjie wat dan nie eers kon verstaan waarom sy so vreeslk mishandel word nie. Ek word skoon “siek” Dit is onstellend

Mariana

Hoop dit is lewenslank en nie parool soos so baie gebeur nie. Hoe kan enigiemand ‘n klein kindjie so mishandel? Sy hoort in ‘n donker gat vir altyd.

Roelof C

Wanneer gaan die “Ondersoekbeampte” ook die nodige krediet en erkenning kry in die media?

Yvonne

Die wreedheid van die mense laat my sprakeloos