Lewenslank vir ‘werksoekers’ wat bejaarde vermoor

(Argieffoto: Unsplash)

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het lewenslange tronkstraf opgelê aan twee mans vir die moord op die 79-jarige Johnie William Marx in November 2019.

Marx het ʼn tuindiens vanaf sy huis in Jeffreysbaai bedryf toe Lunga Welkom (30) en Masixole Mbeki (30) hom op die middag van 11 November 2019 genader en vir werk gevra het. Marx het aan hulle gesê hy het geen vakante poste beskikbaar nie.

Die twee is die volgende dag omstreeks 07:00 terug na Marx se huis met die voorneme om in te breek en die plek te besteel. Mbeki en Welkom het ooreengekom indien Marx tuis was, hulle hom sou beroof.

Marx was in daardie stadium alleen nadat sy vrou, Yvonne, by hul dogter, adv. Zelda Swanepoel, was. Swanepoel, verbonde aan die direktoraat vir openbare vervolging, het Yvonne ná ʼn operasie versorg.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê gewapen met pepersproei is Welkom en Mbeki terug na die Marx-huis. Nadat Marx die motorhuisdeur oopgemaak het, het hulle hom weer vir werk gevra.

Mbeki het Marx met die pepersproei in die gesig gespuit, hulle het hom gedwing om terug in die motorhuis te gaan en die deur agter hulle toegemaak. Daar is Marx met stomp voorwerpe aangerand en in ʼn stoel vasgemaak.

Die twee het die huis geplunder en verskeie items, waaronder ʼn selfoon en juwele, gebuit.

Hulle het klere in die huis gebruik om in Marx se mond te druk, ʼn plastieksak oor sy kop getrek en dit met kleefband verseël en daarna gevlug.

Marx kon nie asem haal nie.

Ngcakani sê Welkom en Mbeki het daarna kontantonttrekkings en betalings met twee Absa-kaarte ten bedrae van net meer as R22 000 gedoen.

Op die aand van 12 November 2019 het familielede na Marx gaan soek nadat hy nie sy foon beantwoord het nie. Hulle het sy liggaam dieselfde aand gevind waar hy versmoor het.

Die Valke het Welkom en Mbeki twee dae later in hegtenis geneem.

Benewens die lewenslange vonnis vir die moord op Marx, het die hof Welkom en Mbeki ook vyf jaar tronkstraf elk opgelê vir huisbraak, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, drie jaar vir menseroof, vyf jaar vir bedrog en een jaar vir geldwassery.

Adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van openbare vervolging, sê dit was danksy die leiding van aanklaers sedert die inhegtenisneming sowel as tydens die voorbereiding van ʼn sterk saak, dat die twee beskuldigdes geen ander opsie gehad het as om skuldig te pleit nie.

“Aanklaers dien die gemeenskap op ʼn daaglikse basis en help om afsluiting vir baie slagoffers te gee.

“Dié saak was veral na aan die hart omdat die pa van een van ons eie [Swanepoel] wreed vermoor is. Daar word gehoop die familie vind ʼn mate van berusting en nuwe krag om die stryd teen misdaad voort te sit,” sê Goberdan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Die vierde laaste paragraaf maak nie sin nie.Was Marx nie die slagoffer nie.

Pierre

Kom “tackle” ‘n slag julle eie ouderdomsgroep. Lafaards.

ES

Ek se dit baie – daar is baie staatsaanklaers hard werk om seker te maak dat kriminele baie lank agter tralies sit.

Slagoffers se familie moet ook, sodra hierdie twee in aanmerking kom vir parool, die paroolraad nader en eis dat parool nie toegestaan word nie. Dan sal die twee kriminele virewig in die tronk bly en hul volle 25 jaar uitdien.