‘Lewenslank’ vra pa ná moord op seun

Aljar Swartz. Foto: Catherine Rice/ANA

Aljar Swartz. Foto: Catherine Rice/ANA

Deon Louw het versoek dat die man wat sy 15-jarige seun onthoof het tot lewenslange tronkstraf gevonnis moet word.

“Dit is ʼn baie hartseer storie. Ek wil hê Swartz moet lewenslank tronk toe gaan sonder die opsie van parool,” het Louw buite die Wes-Kaapse hoofgeregshof gesê nadat finale argumente aangehoor is in die saak teen Aljar Swartz.

Louw het sy seun, Lee Adams, beskryf as ʼn vriendelike en liefdevolle kind wat hy elke dag mis. Adams se suster het op die trappe buite die hof gesit en huil en was te emosioneel om die media te woord te staan.

Swartz het die tiener glo in 2013 in Ravensmead onthoof om die liggaamsdele aan ʼn sangoma te verkoop. Carine Theunissen, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê Swartz het sowat ʼn week gelede ʼn “ommekeer” gemaak toe hy erken het dat hy Adams vermoor en onthoof het.

Swartz het in sy bekentenis gesê hy het Adams op 17 Oktober 2013 gewurg en toe verskeie kere met ʼn mes gesteek voordat hy hom onthoof het. ʼn Veiligheidswag het Adams se liggaam naby ʼn skool gevind terwyl sy kop later in ʼn vlak graf in die beskuldigde se tuin gevind is.

Swartz wou glo Adams se kop vir R5 000 aan ʼn sangoma verkoop. Swartz het aangevoer dat hy ʼn satanis was ten tyde van die moord. Theunissen het dit egter in twyfel getrek en gesê daar was geen tekens van ʼn sataniese ritueel nie.

Regter Elize Steyn het die saak tot 10 Maart uitgestel vir uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gesiggie ·

Deon… dit is skokkend, dit die eerste keer wat ek van die geval lees… geen Pirool vir die Vark.. Tronkstraf is eintlik te maklik vir hom…hy moet harder gestraf word as dit… ek is so baie jammer vir wat met jou seun moes gebeur… n mens voel om die man te gryp en hom te steunig” regtig… Sterkte aan jul.

Veritas ·

Dit is jammer dat daar nie meer iets soos ‘hardepad’ in die regstelsel is nie. Dit sou misdadigers bietjie laat dink het voordat hulle die wet oortree. Siende dat die doodstraf nou kamtig ‘onmenslik’ is. Nie dat die beskuldigde, in hierdie geval, enigsins as ‘n mens beskryf kan word nie.

tamboti ·

Veritas jy slaan spyker op die kop, die straf van gevangenis het geen bedreiging vir die misdadiger nie omdat daar in werklikheid nie geSTRAF word nie, dit is hoogstens beperking!
Misdadigers moet met afsondering, beperkte dieet, liggaamlike straf en harde arbeid gerehabiliteer word. Dit sal WERKLIKE berou en werklike “omkeer” veroorsaak.

Yolandi ·

En nou dat hy `n week terug `n “omkeer” gemaak het gaan hy seker nie swaar gestraf word nie want hy toon seker berou oor wat hy gedoen het en is seker nie meer `n satanis nie… Die moordenaars van vandag weet presies wat om te sê sodat hulle nie gestraf moet word nie – en as hulle uitkom, dan doen hulle dit maar net weer, en weer en weer…

Winston ·

Dis nie meer Afrika regstelsel wat geld nie. Indien dit sou geld, is hy nooit “regverdig” verhoor nie. Dit skend mos menseregte om n veroordeelde moordenaar te laat klippe kap, maar die slagoffer se reg op lewe, word heeltemal misken. Jammer maar die sisteem werk so.

Donovan ·

Ek verstaan nie wat gaan aan in ons samelewing nie… waar gaan al die goed eindig… mense daar is meer genaakbare maniere om R5000-00 in die hande te kry as om iemand se kop af te kap… maar ja as ek kyk na Swartz se klere lyk dit nie na n man wat geld tekort het nie…

theo ·

Ek dink regtig dat daar groot fout is met die logika van ons regstelsel…..
Hoe kan ‘n skuldige aan ‘n onmenslike oortreding menslik behandel word?
Indien ‘n regter so ‘n vonnis uitspreek, kan die regter se integriteit self bevraagteken word……

Peet J ·

Maroela Media wat is fout dat my kommentaar nie geplaas word nie,asseblief?

Landi Slatter ·

Dagsê Peet J

Kommentaar wat nie aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname voldoen nie, word ongelukkig verwyder.
Vergewis jouself gerus van dié maatreëls om seker te maak dat jou kommentaar nie uitgevee word nie.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Peet J ·

Maroela Media as dit nie teveel moeite is nie verneem ek om welke rede weerhou julle my kommentaar, hierdie is my tweede navraag.

Meer as lewenslank ·

Deon Louw, dit wat met jou kind gebeur het is meer as lewenslank, hierdie stuk gemors moet 3x lewenslank kry, hy mag nooit weer uit n tronk kom, nooit eendag opstaan en nie jou kind se vreesbevange gesig voor hom sien nie! Lewenslank is maar net 25 jaar. Sulke misdade vereis die doodstraf,. Ons kan net bid vir genade vir hierdie gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.