Lewenswetenskappe ‘beter as rekordeksamen’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen se eerste lewenswetenskappevraestel was oor die algemeen vir matrikulante “beter” vergeleke met die rekordeksamen.

“Daar was niks snaaks of vreemd aan die vraestel nie. Op ’n paar plekke moes die leerders wel mooi gelees het, maar al die vrae het hulle al deur die loop van die jaar teëgekom,” sê ’n onderwyser by monde van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die wetenskaponderwyser hoop egter die memorandum waarvolgens daar gemerk gaan word, is ook billik.

Vrydag se vraestel het uit twee afdelings en 150 punte bestaan. Tanya Grove, ’n matriekleerder aan Paarl Girls’ High School in die Wes-Kaap, sê daar was nie ’n spesifieke afdeling waarmee sy gesukkel het nie.

“Ek het wel myself deurmekaar gemaak by die vraag oor hormone, maar het teruggegaan na die vraag en kon dit toe mooi beantwoord.”

Grove sê sy het die vraestel baie geniet omdat sy haar werk goed geken het. “Die vraestel was duidelik gestel en beslis beter as die rekordeksamen.”

Matrikulante het twee en ’n half uur gehad om die vraestel te voltooi.

Fedsas sê namens ’n ander onderwyser dat matrikulante deeglik van die tyd gebruik gemaak het. “Ek is al langer as 30 jaar betrokke by die gr. 12- eindeksamen en vanjaar skryf meer as 80% van leerders die volle tyd wat aan hulle beskikbaar is,” was die onderwyser se woorde ná die vraestel aan Fedsas.

Grove sê sy het haar pen ’n halfuur voor die tyd neergelê. “My klasmaats voel weer hulle het te min geskryf omdat hulle so vroeg klaar gemaak het.”

Matrieks skryf Maandag die tweede lewenswetenskappevraestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Is enige matriekeindeksamen anders as maklik? Standaarde is nou so laag. Gaan kyk net na die matriek hersieningsprogramme op DSTV en vergelyk dit met wat 30-40 jaar gelede aangebied is. ‘n Moeilike vak soos geskiedenis wys nie eens op dié kanaal nie. Seker oor al wat vandag aangebied word, ‘n holruggeryde verhaal is van “kyk hoe 100% hoogheilig was die struggle en kyk hoe 100% sleg was die onderdrukkers”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.