Lewenswetenskappe was ‘maklik’, meen matrieks

Argieffoto

Matrikulante sê die eerste lewenswetenskappevraestel was heel billik.

Dit is ook die mening van Jeanine de Beer, ’n lewenswetenskappe-onderwyser aan Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit. “Ek dink dit was ’n goeie vraestel. Dit was beslis op standaard.”

De Beer het Vrydagmiddag aan Maroela Media vertel dat dié eindeksamenvraestel wat Vrydag afgelê is, wel mooi lees en kophou geverg het, maar indien jy voorbereid was, sou jy nié sukkel nie. “Dit het bloot kennis en insig getoets,” sê sy.

De Beer het reeds terugvoer van haar klas ontvang en matrieks is dit eens: Dit was maklik.

Janika Britz, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, glo die vraestel was makliker as die rekordeksamen se vraestel. “Die diagramme en tabel wat ons moes teken was ook baie maklik en ek is baie gelukkig met die vraestel.”

Ané van Deventer, ’n matrikulant aan dieselfde skool, is ook tevrede met die vraestel, maar sê leerlinge moes steeds ordentlik lees om die vrae te beantwoord. “Vraestel een is gewoonlik vir my makliker as vraestel twee, so ons sal maar sien wat Maandag vir ons wag.”

De Beer erken dat die diagramme in die vraestel ietwat op ’n ander manier gevra is, maar dat matrikulante dit sou kon beantwoord en reg interpreteer.

Hugo Vermeulen, onderwysspesialis verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die eerste vraestel vir lewenswetenskappe was billik met geen vrae wat daarop uit was om leerlinge vas te vra nie.

De Beer voeg by dat haar matrikulante ook tevrede was met die langvraag van 17 uit 150 punte. Dié langvraag het matrikulante se kennis in graad 11-omgewingstudies getoets en gehandel oor die impak van temperatuur.

Matrikulante sal oor die naweek vir die tweede lewenswetenskappevraestel voorberei wat Maandag geskryf word. De Beer sê dat matrikulante egter gewoonlik meer met die tweede vraestel sukkel. Dié vraestel handel oor DNS en genetika. “As jy dit eers verstaan is dit maklik, maar vir baie is dit maar abstrak en dus moeiliker.”

De Beer verduidelik dat die twee vraestelle wat afsonderlik geskryf word, inhoudsgewys heeltemal van mekaar verskil.

Matrikulante het nog sowat drie weke van eindeksamen oor met tale soos Afrikaans-huistaal, Engels-huistaal en Sesotho wat nog voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

is enige skoolvak dan moeilik? ek het onlangs na ‘n DSTV kanaal vir matriek hersiening gekyk en ek was verbaas oor hoe maklik alles was. Vakke wat ek in matriek gehad het is ook behandel. Ek kon amper al die vrae uit my kop beantwoord ek en was verbaas oor dit net die maklike dele van daardie vakke dek. die werklik moeilike aspekte is skaars na verwys.
Standaarde is BAIE laer is in die ou SA. Leerders wat met 10 en 12 onderskeidings matriek slag, is dus nie regtig so slim nie. Trek maar so 20% af vanaf daardie onderskeidings, om uit te kom by wat dit eintlik moet wees en waartoe die leerder eintlik in staat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.