Lewer nóú kommentaar op onteieningswet – TLU

(Argieffoto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Lede van die publiek het kans tot 13 Augustus om kommentaar te lewer op die nuwe wysigings rakende art. 25 van die Grondwet, wat dit moontlik sal maak om grond sonder vergoeding te onteien.

Dié wetsontwerp is reeds vroeër verlede jaar by die parlement ingedien. Maroela Media het vroeër berig die parlement het op 10 Desember lede van die publiek gevra om kommentaar te lewer op die inhoud van die wetsontwerp.

Volgens dr. Corné Mulder, van die VF Plus en lid van die Artikel 25- ad hoc-komitee wat met die wysigings gemoeid is, is die ANC se nuwe voorstelle op die konsepwetgewing wat verlede jaar bekendgemaak is, redelik ingrypend.

Dit behels dat grondonteiening met die oog op grondhervorming teen nulvergoeding kan plaasvind. Verdere voorstelle handel oor die regering as kurator van sekere grond en ’n nasionale wet om die voorwaardes te bepaal vir wanneer grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

Die ANC kon die wysigings vir kommentaar deurvoer omdat die party in die komitee die meerderheid lede het. Om dit heeltemal deur te voer, moet tweederdes van die parlement die konsepwet aanvaar. Sedert die vorige verkiesing het die ANC nie meer ’n tweederde-meerderheid nie. Aangesien die EFF aandring op selfs meer radikale wysigings waartoe die ANC nie wil instem nie, is die kans goed dat die EFF nie die konsepwetgewing in sy huidige formaat sal ondersteun nie.

TLU SA het ’n ernstige beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die geleentheid aan te gryp en kommentaar op dié wetsontwerp te lewer.

“Dit is uiters belangrik dat alle Suid-Afrikaners en nie net boere nie, besef hoe belangrik dit is dat hierdie wysigings nie deurgevoer word nie,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.

“As die Grondwet toelaat dat grond sonder enige vergoeding onteien kan word, verloor alle grond in die land onmiddellik alle waarde. Dit sal ’n ernstige invloed hê op die verskaffing van voedsel, buitelandse belegging en die ekonomie.”

Geldenhuys sê TLU SA is dankbaar dat lede van die publiek tot dusver aan die proses deelgeneem en só verhoed het dat die Grondwet maklik gewysig kon word.

“Die proses staan einde se kant toe en as die EFF volhou om die ANC teen te staan, lyk dit of dit die gewenste uitwerking sal hê. Maar in die politiek is niks seker tot die finale uitslag nie. Dit is daarom baie belangrik dat mense weer kommentaar lewer sodat ons teenstand gewig kan dra.”

Mense kan by die volgende skakel kommentaar lewer: https://www.tlu.co.za/onteieningswet/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Net soos met my wapens kan julle maar van my grond ook vergeet

Windhond

ANC EN EFF verskil nou om almal gerus te laat voel dan gaan hulle een van die dae skielik hand oppie blaas wees en die wetgewing gaan deur glip…….lees my lippe

Barbara

As ek ooit grond moet hê kan hul vergeet. Ek brand als af en verhuur dan die grond uit aan plakkers per maand. Sien wat sal dan gebeur. Hul sal niemand dan afkry.nie.

Mariana

Moet nooit die ANC of EFF vertrou nie, dit sal groot fout wees.

Hardekwas

50 miljoen teen 6 miljoen. Ons staan geen kans nie.