Lewer só kommentaar op verdere wysigings aan US-taalbeleid

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Belanghebbendes kan nou op die tweede konsep van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene taalbeleid (2016) kommentaar lewer. Partye het tot 14 Augustus om kommentaar te lewer.

“Die hersiening van die US se taalbeleid (2016) het die tweede fase vir openbare deelname bereik. Belangstellendes word uitgenooi om kommentaar te lewer op die tweede konsepweergawe, wat van 23 Julie tot 14 Augustus 2021 op die US se taalwebblad beskikbaar sal wees,” lui ʼn verklaring wat die universiteit Donderdag uitgereik het.

Die taakspan vir die hersiening van die taalbeleid het die eerste konsep saamgestel en in Maart en April 2021 vir openbare insette uitgereik. Voorleggings is oorweeg en ʼn tweede konsep is nou vir openbare kommentaar beskikbaar.

“Soos die geval met die eerste geleentheid vir openbare deelname, kan kommentaar op die tweede konsep slegs via die digitale platform op die US se taalwebblad ingedien word. Geen kommentaar sal ná die sluitingsdatum moontlik wees nie.”

As deel van die tweede openbare deelname het die US die inligting wat die taakspan gedurende die hersieningsproses oorweeg het, aan lede van die publiek beskikbaar gestel. Die Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) verskaf ʼn breë oorsig van die proses en tydlyn; die internasionale en nasionale konteks van die hoëronderwyssektor; die US-konteks; die inwerkingstellingskoste van verskillende taalscenario’s en die rektoraat se siening.

Prof Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch, tydens die verhoor voor die MRK,. (Foto verskaf deur die DA)

Die universiteit loop geruime tyd reeds deur onder kritiek oor die toepassing van sy taalbeleid. Die Menseregtekommissie het selfs ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat die DA vroeër klagtes aanhangig gemaak het oor talle aantygings dat studente in koshuise, op kampus en selfs op WhatsApp verbied word om in Afrikaans te kommunikeer, en met boetes gedreig word indien hulle Afrikaans sou praat. Die verhoor het in Stellenbosch plaasgevind.

Die universiteit se bestuur hou egter vol dat die taalbeleid studente groter en meer keuses bied. Die bestuur ontken ook dat die gebruik van Afrikaans ontmoedig word.

Die DA het ook reeds tydens die eerste ronde van openbare deelname duisende kommentare teen voorgestelde wysigings ingedien. Die party meen die US se nuwe konsepbeleid sal Afrikaanse studente selfs verder uitsluit as wat die 2016-beleid, na hul mening, reeds doen.

In ʼn uitnodiging aan die breë Stellenbosse universiteitsgemeenskap om op die tweede konsep kommentaar te lewer, het prof. Deresh Ramjugernath, viserektor van leer en onderrig, gesê dat die US se verbintenis tot meertaligheid “daarop ingestel is om mense ʼn stem te gee, ongeag die taal wat hulle praat”.

“Dit spreek tot die diversiteit van ons land en stel ons in staat om met mekaar om te gaan op maniere waarop ons nie andersins sou kon nie. Deur hul daaglikse blootstelling aan meertaligheid en respek vir mekaar se kultuurerfenis en taal op US-kampusse ontwikkel studente graduandi-eienskappe wat hulle tot betrokke landsburgers slyp met die vaardighede en ingesteldheid om saam te werk aan samebindende en verdraagsame gemeenskappe binne ʼn diverse samelewing,” het hy gesê.

Die US hersien vanjaar sy taalbeleid as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 bepaal dat die beleid “vyf jaar ná die inwerkingstellingsdatum daarvan verval” en “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien moet word”. Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Johan

Een groep radikales het ń historiese dorp,met sy unieke universiteit,omgedop en ontwrig,en die toekoms sal oordeel. Die dorp is besig om sy siel te verloor…..