LGBTQI+: Departement sê leerders moet kies oor badkamers, skoolklere

(Foto: pixabay)

Wes-Kaapse leerders wat as deel van die LGBTQI+-groep identifiseer, moet kan kies watter badkamers hulle gebruik of watter skoolklere hulle dra; ongeag watter geslag op hul geboortesertifikaat aangedui word. Enkelgeslagskole moet selfs LGBTQI+-leerders kan inneem en dié leerders se behoeftes moet ook in skoolkoshuise in ag geneem word.

Dit volgens konsepriglyne wat die Wes-Kaapse departement van onderwys in Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer het.

Dié riglyne stel voor dat skole leerders moet toelaat om die geslag waarmee hulle identifiseer, uit te leef, al is dit strydig met wat by binnelandse sake aangeteken is. Dit behels dat ʼn skool toelaat dat ʼn LGBTQI+-leerder die toilette en kleedkamergeriewe waarmee hy of sy die gemaklikste voel, gebruik, mits ander leerders se gevoelens ook in ag geneem word. ʼn Skool mag ook voorsiening maak vir ʼn unisekstoilet, indien dit redelik en prakties uitvoerbaar is, afhangende van hulle beskikbare finansiële hulpbronne en infrastruktuur.

Skole word aangemoedig om die kleredragvoorkeure van LGBTQI+-leerders in hulle onderskeie gedragskodes tegemoet te kom en mag genderneutrale skoolklere in gebruik neem. “Dieselfde reëls vir dogters mag ook op seuns van toepassing wees, en omgekeerd, waar dit redelik en prakties uitvoerbaar is. Skole word ook aangemoedig om afwykings van die skool se kleredragbeleid toe te laat op grond van kultuur, mediese en genderdiversiteit,” lui die riglyne. ʼn Aansoekbrief in hierdie verband  kan by die skoolhoof ingedien word.

skoolskoene-2

Argieffoto

Wat die matriekafskeid betref, word dit aangemoedig dat leerders toegelaat word om hul kleredrag volgens seksuele voorkeur te kies. Skole moet ook verseker dat alle leerders vry is om ʼn metgesel van hulle keuse na die matriekafskeid te bring, ongeag seksuele oriëntasie en genderidentiteit.

Die departement beveel verder aan dat kwessies oor geslag, gender, genderidentiteit, homofobie en transfobie in ʼn vak soos Lewensoriëntering bestudeer word.

Volgens die departement is die doel van dié riglyne om ʼn opvoedkundige omgewing te skep wat nie direk of indirek teenoor enigiemand op een of meer gronde, insluitend gender, geslag, seksuele oriëntasie, gewete, geloof, kultuur en geboorte diskrimineer nie. Dit moet ook ʼn opvoedkundige omgewing skep wat vry van stigma en diskriminasie vir alle leerders in alle openbare skole is en ook genderidentiteit en uitdrukking van gender bevorder.

Die menseregte organisasie Cause For Justice (CFJ) meen egter dié riglyne bedreig die beste belang – die fundamentele regte, gesondheid en welstand – van leerders wat openbare skole in die Wes-Kaap bywoon.

“Ten einde te verseker dat die beste belang van kinders beskerm en bevorder word, het die organisasie Vrydag geskrewe kommentaar by die WKOD ingedien,” lui ʼn verklaring deur CFJ. Die organisasie vra ook dat openbare verhore gehou word om ouers en leerders se insette oor dié kwessies te kry, alvorens dit in skole toegepas word.

Die internasionale organisasie Doctors for Life het ook kommer uitgespreek oor dié riglyne en gesê dit kan die jongmense van Suid-Afrika “erg verwar”. “Ander lande se foute het ons geleer dat menslike seksualiteit ʼn objektiewe, biologiese kenmerk is en nie iets wat deur transgender reggestel kan word nie,” lui ʼn verklaring op die organisasie se Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.