Liam Nortjé-moordsaak: Liggaam dalk vroeër geskuif

Liam Nortjé

Die oorskot van ʼn klein seuntjie wat Vrydag langs ʼn spoorlyn in Harrismith gevind is, is moontlik eers elders begrawe. Corné Marais, ʼn prokureur wat nou by die ondersoek na klein Liam Nortjé se verdwyning betrokke was, het gesê die liggaampie wat Vrydag gevind is, was reeds erg ontbind. “Die kind het beslis ʼn rukkie daar gelê, maar nie lank nie,” het hy gesê.

Dit het ook nie soos ʼn graf gelyk wat oopgegrawe is nie.

Marais het gesê dit is waarskynlik meer toeval dat die liggaam gevind is op dieselfde dag wat Nortjé gevonnis is, as dat dit met opset só gedoen is. Hoewel daar nie ʼn magdom mense in die gebied is nie, is daar onder meer veewagters wat gereeld daar verbystap. Die man wat die liggaam ontdek het, stap ook gereeld in die omgewing.

Dit het gelyk of die liggaam in twee duvets en ʼn stuk plastiek toegedraai was. Die polisie gaan na verwagting Woensdagoggend forensiese kenners na die toneel stuur om grondmonsters te neem. Dit moet help bepaal of, en indien wel, waar, die liggaam voorheen begrawe was.

Liam se pa, Nantes Nortjé, is Woensdag in die hooggeregshof op Harrismith skuldig bevind aan die moord op die driejarige kind, selfs al was die kind se liggaam in daardie stadium nog nie gevind nie. Nortjé is Vrydag lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord.

Liam het in November 2017 spoorloos verdwyn nadat Nortjé hom by Liam se ma, Cheinelle Brooks, met wie hy 23 jaar getroud was, gaan oplaai het. Hy is later in Ladysmith in hegtenis geneem, maar daar was geen spoor van die seuntjie nie. Nortjé het destyds gesê hy het die kind vir mense gegee wat nie kinders kan kry nie, maar het geweier om enigsins meer inligting bekend te maak.

Die treinspoor by Harrismith waar die liggaam van ‘n seuntjie Vrydag gevind is. (Foto: Corné Marais)

Hy is herhaaldelik gevra waar die seuntjie is, maar het deurlopend daaroor geswyg. Nortjé het ook nie tydens sy verhoor getuig nie.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het vroeër gesê ʼn man het met sy hond gestap toe die hond die vlak graf naby die spoorlyn uitgesnuffel het en die polisie in kennis gestel is.

Volgens Mbambo het Brooks gesê skoentjies wat ook in die graf gevind is, is soortgelyk aan die wat Liam gehad het.

Forensiese toetse sal deurslaggewend wees om die identiteit van die kind te bepaal, hoewel geen ander kind wat aan ʼn soortgelyke beskrywing voldoen, in dieselfde omgewing as vermis aangemeld is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maria ·

Huil my doooood ag noooooit waarom ….waarom …..my hart breek Liam onskuldig kind niks met ontantwoordelikheid/gebroke ouers te doen te he nie.

J ·

Daar gaan DNS en toetse gedoen moet word. Dis SA, meer as 55 mense word vermoor per dag, so toeval is nie uit die venster nie.

SoosDitIs ·

Iets klink nie reg nie – die liggaam is ontdek op die dag wat die “pa” gevonnis is… So AS dit Liam is, het die “pa” n medepligtige wat die liggaam geskuif het namens hom om n punt te maak?

Ek hou aan bid dat dit NIE Liam is nie… Maar as dit is :( is ek baie jammer vir die mamma.

Wonder nou net ·

Ek wonder en verstaan nou nie so mooi as ek die berig lees nie. Was die pa van 2017 in aanhouding? Indien wel, hoe kon die seuntjie, as dit hy is, se ligaam geskuif word na iewers wat beweer word “hy nie lank” daar is nie? Iemand anders?? Bly ‘n hartseer situasie maak nie saak hoe mens daarna kyk nie. Sterkte aan almal betrokke:(

Johanna ·

Klein Liam die seuntjie met die hartseer ogies. Rus saggies by Liewe Jesus.

Anoniem ·

Wat de h . l? is dit Liam? As dit Liam is rus saggies Liampie – as dit nie is nie moet die persoon ook saggies rus by Jesus en laat die skuldige persoon dan gevind word wat die liggaam daar neergeplaas het. Hene hoe kan mens dit net doen?

VanAfrika ·

Ag ek bid so dat dit nie Liam is nie want mens kry nie blanke kinder graffies om elke hoek en draai nie, en dan match die skoentjies ook nog.

Liam, die tannie is so jammer dat dit met jou gebeur het. Ek is so jammer dat jou pappa die monster in jou lewe was. Mag jy nou in vrede speel daar waar my seuntjie is en ek wens ek kan julle laggies hoor soos dit nou in die hemel opklink.

Liam se mamma, my hart breek vir jou.
Die moeilike is om sy dood te moet verwerk en al die onbeantwoorde vrae wat nog kom. Al het die duiwel hom seergemaak het Jesus hom kom red. Al wat ek vir jou kan sê, hou net jou oë op Jesus want mens raak so gou verlore in jou verdriet. Huil as jy wil huil en praat oor hom. Steek n kersie aan en bou herinnerinkies om daardie kersie. Moenie luister as mense sê “dit was sy tyd, Jesus het die mooiste blom kom pluk, hy het sy doel op aarde gedien, dit was sy tyd om te gaan” want dit is nonsense. Ons kindertjie moes hier gewees het, in ons arms, in hulle warm bedtjies, n broodtjie in die hand, wat vir ons mamma sê.
My gebede is met jou, mag onse Liewe Heer jou en jou geliefdes dra in hierdie moeilike tyd.
Van n mamma wat weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.