Liam se liggaam dalk gevind

Liam Nortjé

Die oorskot van ʼn kind wat in ʼn vlak graf in Harrismith gevind is, is heel waarskynlik die van die blondekopseuntjie Liam Nortjé wat al vir meer as twee jaar vermis is.

Die skokontdekking is Vrydag gemaak op dieselfde dag wat Liam se pa tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê ʼn man het met sy hond gestap toe die hond die vlak graf naby ‘n spoorlyn uitgesnuffel het en die polisie in kennis gestel is.

Volgens Mbambo het Cheinelle Brooks, Liam se ma, gesê skoentjies wat ook in die graf gevind is, is soortgelyk aan die wat Liam gehad het.

Mbambo het gesê forensiese toetse sal nou gedoen word om te bevestig of die oorskot wat gevind is, die van Liam is.

Nantes Nortjé is Vrydag in die rondgaande hooggeregshof in Harrismith lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy Woensdag skuldig bevind is aan die moord op Liam, asook op die aanranding van sy gewese vrou, Cheinelle, en hul twee dogters.

Hy is skuldig bevind al was Liam se liggaam in daardie stadium nog nie gevind nie.

Klein Liam Nortjé saam met sy ma, Cheinelle.

Liam het in November 2017 spoorloos verdwyn nadat Nortjé hom by Cheinelle, met wie hy 23 jaar getroud was, gaan oplaai het. Hy het destyds gesê hy het die seuntjie vir mense gegee wat nie kinders kan kry nie, maar het geweier om enigsins meer inligting bekend te maak.

Ondanks Cheinelle se herhaalde pleidooie, het Nortjé deurlopend verseg om te sê waar die seuntjie is, of selfs net ʼn bewys te lewer dat hy nog leef.

Nortjé het Vrydag steeds volgehou Liam leef nog en het aan sy regsverteenwoordiger, Peter van der Merwe, gesê hy berus by die hof se vonnis en gaan nie daarteen appelleer nie.

Hy is lewenslange tronkstraf vir die moord opgelê, en onderskeidelik drie jaar, nege maande en vyf jaar vir die drie aanrandingsklagte.

Nortjé is in Julie 2018 in hegtenis geneem. Hy het in ʼn plakkershut in Ladysmith gewoon toe hy aangekeer is en het glo los werkies soos sweiswerk gedoen.

Cheinelle het destyds aan Maroela Media gesê Nortjé het met Liam verdwyn nadat sy vir hom gesê het sy wil die huwelik beëindig.

“Hy het allerhande beskuldigings gemaak. Hy het gevra vir ʼn tweede kans en ek het gesê ek kan dit nie waarborg nie, en toe verdwyn hy met Liam.”

Cheinelle het die laaste keer van Liam gehoor toe Nantes oor die telefoon vir haar gesê het sy gaan haar kind nooit weer sien nie en sy gehoor het hoe Liam in die agtergrond skreeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
estelle kuys

Ek is so so jammer, Mamma.

HPV

Mens kan tereg vra watter soort mens vermoor sy eie seun, die seun wat jou vertrou en jy moet beskerm?

Wielspore

Hierdie moordenaar is ‘n narcissus, dit is ‘n persoon wat in ‘n fantasie wêreld lewe. Alles gaan oor homself en die misbruik van ander vir sy eie gewin. Hierdie misbruik is geweldadig wat die persoon geen skuld gevoelens gee. Sadisme loop ook daarmee saam.
Daar is net een oplossing, breek op met so ‘n persoon en stop alle verbindtenis met hom want met manupilasie is hy goed. Jaloesie dryf hom tot geweld en moord. Sterkte aan die mamma.

Katheleen

Mens het nie woorde vir die seer nie. So jammer vir Liam wat sy lewetjie op so n jong ouderdom moes verloor het. Deur n selfsugtige man wat geen respek het vir ander se geluk nie.

Monique

My hart het geglo die lyfie lewe nog. So jmr klein Liam…. jou pappa sal wel 1dag aan oms Hemelse Pappa moet verduidelik hoekom… maar wees gerus dat jy hom NOOIT weer hoef te sien want hy gani saam jou in die ewigheid lewe….. Rus saggies lyfie