Liberty-aandele tuimel ná kuberkrakers toeslaan

Die finansiëledienstemaatskappy Liberty Holdings se aandeleprys het Maandag met meer as 4% gedaal terwyl die versekeraar steeds vlamme probeer blus ná kuberkrakers toegeslaan het.

Liberty het Sondag gesê hy het van die aanval te hore gekom toe ʼn eksterne party die maatskappy in kennis gestel het dat hy data van die versekeraar bekom het en gedreig het om dit vry te stel, tensy hy vir die aanval vergoed word. Die versekeraar het gesê daar is nie enige bewyse dat enige van sy kliënte finansiële skade gely het nie.

Liberty se aandeleprys het Maandagoggend op R126.69 per aandeel oopgemaak, maar teen middagete het dit met 4.3% gedaal tot R119.00 per aandeel. Die aandeleprys het Vrydag op R124.00 per aandeel gestaan.

“Ons is bewus daarvan dat daar ʼn vlak van kommer bestaan nadat ons Saterdag aangekondig het dat Liberty die slagoffer was van ʼn kriminele misdryf,” lui ʼn verklaring. “Ons span spesialiste en veiligheidspersoneel het onverpoosd gewerk om seker te maak dat ons die nodige sorg toepas en dat ons kliënte en ons eie inligting beskerm word.”

Die maatskappy het gesê sy ondersoek is al ver gevorder om die omvang van die databreuk te bepaal. Dit wil voorkom of dit in hierdie stadium hoofsaaklik e-posse en aanhangsels was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.