Liberty Fighters wil weer hof toe oor regulasies

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Die president van die Liberty Fighters Network (LFN), Reyno de Beer, het die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, tot die einde van Dinsdag gegee om op sy navrae oor die Covid-19-krisis te reageer en sodoende regsaksie te vermy.

Hy sê die minister minag “duidelik en doelbewus” ʼn hofbevel wat reeds in Junie teen haar bekom is. Die hooggeregshof het toe bevind dat die regering se afsonderingsregulasies vir risikovlakke 3 en 4, wat onder meer die sluiting van strande en parke ingesluit het, ongrondwetlik en ongeldig is.

Regter Norman Davis het destyds die minister se aansoek om teen die uitspraak te appelleer slegs gedeeltelik toegestaan. Die verbod om op strande of in openbare parke te stap, asook die beperkings op ondernemings en godsdienstige byeenkomste, was uitgesluit en wesenlik van die tafel gevee.

“Tog verkies die media steeds om nie-feitlike nuus aan die publiek te gee en propageer hulle die Covid-19-storielyn,” sê De Beer.

Sy organisasie is nou besig met die opstel van dokumente om ʼn dringende aansoek teen die minister in die hooggeregshof te bring ná sy in ʼn beëdigde verklaring bevestig het dat haar regspan nie haar volledige aansoek om appèl teen die Junie-uitspraak by die appèlhof ingedien het nie.

(Foto: Courtney Africa/ANA)

“Toe die minister op 23 Desember aansoek gedoen het om kondonasie van haar twee vroeëre aansoeke vir verlof tot appèl, het sy in wese erken dat daar tans geen appèlaansoek teen die hof se bevinding is nie,” sê De Beer.

“ʼn Aansoek is slegs ʼn versoek aan die appèlhof om ʼn vervalde appèl te laat herleef en beteken nie dat die hooggeregshof se oorspronklike uitspraak opgeskort is nie.”

In ʼn brief aan die staatsadvokaat in Pretoria wys De Beer daarop dat die Junie-uitspraak dus reeds elf weke van krag is en dat die minister nie alleen die vorige hofbevel minag nie, maar dit ook oortree wanneer die aangepaste vlak 3-regulasies nou weer in werking tree.

Hy beweer ook dat dit irrasioneel was om die ramptoestand op 15 Desember te verleng en dat daar nooit ʼn sogenaamde “ramp”, soos beskryf word in die Wet op Rampbestuur van 2002, was nie.

Hy vra dat Dlamini-Zuma bewys moet lewer dat die verpligte kriteria nagekom is volgens die voorskrifte van die Wet op Rampbestuur. Dit sluit in dat die regering vir die meer as ʼn miljoen mense wat Covid-19 opgedoen het se mediese uitgawes betaal het, of andersins vir die begrafnisse van die meer as 27 000 wat gesterf het.

De Beer sê om te kan beweer dat ʼn ramp bestaan, moet daar ten minste ʼn beduidende aantal mense wees wat deur Covid-19 geraak is en nie in staat is om hul eie mediese uitgawes of vir hul eie begrafnisse te kan betaal nie.

“Dlamini-Zuma moet dus al hierdie inligting reeds byderhand hê en dit sal nie te moeilik vir haar en haar span wees om die verlangde antwoorde op hierdie redelike vrae vinnig te kan lewer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.