Liberty ‘ten volle in beheer’ van sy IT-stelsel

data-digitaal-rekenaar-brille

Foto: Kevin Ku/Pexels.com

Liberty, die finansiële diensteverskaffer wat Saterdagaand aangekondig het dat hy onder kuberkrakers deurgeloop het, het Sondagaand laat weet hy is nou ten volle in beheer van sy IT-stelsels.

ʼn Inskrywing op Liberty se Facebook-blad lui dat David Munro, uitvoerende hoof van die diensteverskaffer, tydens ʼn perskonferensie gesê het dat hul eerste prioriteit is om hul kliënte, finansiële adviseurs asook personeel te beskerm.

Munro het gesê Liberty was die slagoffer van kriminele aktiwiteit, maar het bygevoeg dat daar nie in dié stadium enige bewyse bestaan dat enige kliënte ʼn finansiële verlies gely het nie.

Liberty-kliënte het Sondagaand ʼn boodskap ontvang wat meld dat die maatskappy saam met wetstoepassers werk aan ʼn ondersoek. “Ons ondersoek na die omvang van die dataskending is in ʼn gevorderde stadium. Dit lyk grootliks na e-posse en aanhegsels.”

Liberty het verder aangedui dat hy enige kliënt persoonlik in kennis sal stel sou daar ontdek word dat hulle deur die kwessie geraak word. “Geen verdere aksiestappe van ons kliënte se kant is nodig nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn boodskap op Liberty se webtuiste het laat Saterdagaand soos volg gelui: “Liberty betreur dit om te bevestig dat ons onderwerp is aan ongematigde toegang tot ons IT-infrastruktuur. ʼn Eksterne party beweer hy het data van ons gesteel en het ons in kennis gestel van moontlike swak plekke in ons stelsel – hy het vergoeding hiervoor geëis.”

Sunday Times het berig dat kuberkrakers glo miljoene geëis het om nie sensitiewe inligting van top-kliënte aan die publiek te lek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben ·

Daar is nie so ‘n ding soos ‘n IT stelsel wat geen swak plekke het nie. Ek stel voor Liberty leer hier uit, hierdie mense het hulle stelsel op ‘n etiese wyse ontbloot en in Amerika, Europa verwelkom die mense dit want dit maak hulle stelsels beter. Die feit dat die mense geld daarvoor gevra is ‘n pein maar dit is nog steed goodkoper as die skade wat kwaadwillige “Black Hats” kan doen. Ek het ‘n gevoel dat Liberty ‘n baie, baie duur les hier nog gaan leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.