Lid van Mamelodi se berugte ‘Boko-Haram’ op N4 doodgeskiet

Die swart VW Polo in die veld langs die pad. (Foto: Verskaf)

ʼn Lid van die berugte Boko Haram-bende in Mamelodi is Dinsdag op ʼn hoofweg buite Pretoria doodgeskiet.

Die Boschkop-polisie het omstreeks 12:00 reageer ná ʼn skietery op die N4 naby die Diamond Hill-tolplaza.

“Met hul aankoms op die toneel is polisiebeamptes deur ʼn ooggetuie meegedeel dat die insittendes van ʼn silwergrys Mercedes-Benz op die insittendes van ʼn swart VW Polo losgebrand het,” het brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die bestuurder van die Polo het beheer oor die voertuig verloor waarna dit ʼn ent van die pad af tot stilstand gekom het.”

Phillip Given Mnguni (35) is op die toneel dood verklaar. Sy vriendin is geskiet en gewond en na ʼn hospitaal gehaas vir behandeling.

Volgens Muridili het die taakspan wat aangestel is om bendebedrywighede in Mamelodi te ondersoek, Mnguni reeds verbind met talle sake waarby die Boko Haram-bende betrek word.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, het die taakspan opdrag gegee om te verseker dat ondersoeke na al die misdade waarby Mnguni betrek is, afgehandel word.

“Die oorledene was een van die mees gesoekte verdagtes in ons ondersoek na Boko Haram se bedrywighede. Daar was nie onlangs berigte van bendeverwante moorde in Mamelodi sedert die ontplooiing van die taakspan en sigbare polisiëringslede nie. Dit dui daarop dat die maatreëls wat ons ingestel het om bendeverwante misdaad te stabiliseer vrugte begin afwerp.”

Die polisie soek intussen na die verdagtes in die Mercedes-Benz. ʼn Saak van moord en poging tot moord word ondersoek. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

Dat ‘n mens so graag die slegte in die lewe wil doen en nie bekommerd is oor wat in die ewigheid vir jou wag nie.

LIEZL ·

So waar. Ek vra myself net af hoe leef ‘n mens so van dag tot dag. Saans is dit jy alleen in die bed met jou gedagtes. Waar kom vrede in?

Snowball ·

Maslow se hiërargie van menslike behoeftes stel selfaktualisering (daai deel waar jy introspeksie doen oor jou doel en potensiaal as mens) is nie regtig deel van wesens soos dié se verwysingsraamwerk nie – hulle funksioneer op daai onderste vlak, daar waar die hier en nou en soveel as moontlik van die basiese behoeftes moet vervul word, selfs ten koste van die siel en die medemens.

Piet parys ·

Meng jou met semels en dan vreet die varke jou . As misdadigers mekaar uitroei is dit mos n uitkoms .

Blikkies ·

Ek wil net sekerheid kry en vra net? Is hierdie Boko Haram waarna hulle verwys n plaaslike bende in Mamelodi of deel van die berugte islamitiese Boko Garam?

Joe Olivier ·

Dis net ‘n plaaslike bende van Mamelodi, Blikkies. Soos die Boksombende, maar net stouter. lol

Gert ·

Voel jammer vir die vriendin maar sy is seker ook ‘n bendelid. As die bendes mekaar wil minder maak is dit nie baie verkeerd nie so los hulle hulle slagoffers uit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.