Lid van opposisie is nuwe Mangaung-burgemeester

Pappie Mokoena

’n Lid van ’n opposisieparty is Vrydag tot burgemeester van die Mangaung-metroraad in Bloemfontein verkies.

Pappie Mokoena van die African Alliance of Social Democrats was die enigste kandidaat vir die pos nadat ANC-lede nie vir die vergadering opgedaag het nie. Mokoena was in die vroee 2000’s ook burgemeester maar toe as ’n ANC-lid.

Die DA se David Masoeu is as hoofsweep gekies. Die DA se Maryke Davies is einde verlede maand tot speaker van die metroraad verkies.

Daar was net-net ’n kworum vir die vergadering waartydens Mokoena en Masoeu verkies is. Daar was streng veiligheid by die vergadering nadat Woensdag se vergadering waar die burgemeester en hoofsweep verkies sou word, deur stakende munisipale werkers ontwrig is.

Stakende munisipale werkers het die ingang na die gebou versper en raadslede sodoende uitgehou. Werkers van die metro se afdeling vir water en sanitasie asook vullisverwydering staak al weke lank omdat hulle nie verlede maand hul volledige salarisse of oortydbetaling gekry het nie.

Die Mangaung-metro het vir ’n wyle geen leierskap gehad nie nadat burgemeester Mxolisi Siyonzana deur die ANC gedwing is om te bedank en Mapaseka Mothibi-Nkoane, adjunkburgemeester, geskors is. Ná volgehoue druk het Tebogo Motlashuping, waarnemende stadsbestuurder, so onveilig gevoel dat hy ook bedank het.

Daar was verlede week gerugte dat die ANC die raadsvergadering sou boikot uit vrees dat dié party die burgemeesterspos aan die opposisie sal moet afstaan omdat dié party se kandidaat nie die posisie gewaarborg sou wees nie.

Agt van die regerende party se raadslede is sedert die verkiesing van die DA-speaker uit die raad geskors omdat hulle glo saam met die opposisie vir die speaker gestem het. Een van die lede was adjunkburgemeester Mothibi-Nkoane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

whatever ·

Nou sal ons Bloemfonteiners wag en kyk of hy die pyp kan rook

Republikein in die Wes Kaap ·

Te betwyfel. Die ANC se kaders beklee seker hoë poste, en slaan die kitaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.