Lieb Bester se gedenkdiens vandag

Lieb Bester.

Die geliefde akteur en musikant Lieb Bester (72) se gedenkdiens vind vandag (Woensdag) by die EG kerk Rietfontein plaas.

Die diens word regstreeks om 13:00 op YouTube uitgesaai.

Lieb is verlede Woensdag dood. Hy het die afgelope ruk met swak gesondheid gesukkel en is vroeër vandeesmaand weer in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy ʼn terugslag beleef het.

Ds. André Bester, Lieb se broer en predikant by die EG kerk Rietfontein, sal die diens lei. Hy het vroeër aan Maroela Media gesê Lieb het “rustig gegaan”.

“Hy was die afgelope twee weke so ontsettend dankbaar vir alles en het aanhou sê hoe dankbaar hy is vir die lewe wat hy gehad het en dat die Here goed is vir hom,” het André gesê.

“Ek glo nie hy het gedink hy gaan sterf nie; hy het net hierdie ontsettende dankbaarheid gehad vir die dokters en die hospitaal en die mense. Hy het aanhou sê hoeveel engele daar op aarde is.”

Lieb was veral bekend vir sy rol as “prof. Fritz” in die sepie Villa Rosa en is benoem in die kategorie sepie-akteur van die jaar in die Tempo-toekennings ʼn paar jaar gelede. Hy het ook gespeel in Agter elke man en Spoorloos, en was ʼn veldaanbieder vir die TV-program Met ʼn huppel in die stap. Lieb het daarbenewens in verskeie rolprente gespeel.

Lieb kon boonop onder meer ʼn konsertina, trekklavier en kitaar aan die brand speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kathleen ·

rus sag liewe Lieb , ek het ‘n baie sagte plekkie in my hart vir jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.