Lieb Bester weer in hospitaal opgeneem

Lieb Bester. (Foto: thespians.co.za)

Die akteur en musikant Lieb Bester is weer in die hospitaal opgeneem nadat hy Saterdag ʼn terugslag met sy gesondheid beleef het.

Dr. André Bester, Lieb se jonger broer en dominee van die Evangelies-Gereformeerde Kerk in Rietfontein, Pretoria, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

Hy sê die familie het Woensdagoggend die goeie nuus van die internis ontvang dat Lieb (72) se nierfunksie, wat Saterdag baie laag was, verbeter het en dat hy beter vaar.

“Dit is ʼn wonderlike internis wat na Boeta kyk. Ons het vanoggend via ʼn video-oproep gesels en ek kon ook kans kry om met Lieb te gesels. Die internis glo dat hy sal herstel en ons is vreeslik dankbaar daarvoor,” sê hy.

Volgens André hou Lieb se gesondheidstryd steeds verband met Covid-19 wat hy sowat ʼn maand gelede opgedoen het. André en sy vrou, Annatjie, het ook albei Covid-19 opgedoen. Lieb woon die afgelope twee jaar by dié egpaar in die pastorie.

Lieb is verlede Dinsdag uit die hospitaal ontslaan, maar het Saterdag ʼn terugslag gehad, vertel André.

“Dit het baie goed gegaan. Hy was gesond en het nie eers ʼn hoesie gehad nie. Saterdag was hy skielik verskriklik deurmekaar, tot op die punt waar hy nie seker was wie hy is nie. Ons het op ʼn punt besef ons gaan hom nie langer by die huis kan versorg nie.

“Ek het Saterdagaand met ʼn matrone gesels wat deel is van ons gemeente en toe ek vir haar die simptome opnoem, het sy ons aangeraai om mediese sorg te kry.”

André sê die internis het verduidelik dat die nuwe Delta-variant van die koronavirus geneig is om die pasiënt se niere aan te tas en Lieb ly tans aan akute nierversaking.

“Hy is tans op dialise en sy nierfunksie het tussen gister en nou baie wipplank gery. Dit lyk egter of dit besig is om te draai in ʼn positiewe rigting.”

Volgens André is Lieb steeds in ligte luim ten spyte van sy siekte. “Hy is heeltemal by sy positiewe en is positief oor sy eie herstel. Sy suurstofvlak lyk goed en is tans op 94%.”

André sê hy en Annatjie het albei ten volle herstel, maar dat hulle soms nog moeg word en hy voel asof hy sinusprobleme oorgehou het.

“’n Mens moet maar geduldig wees met dié ding. Dit is ʼn baie slegte ding wat ons getref het, maar ons kan regtig vir ons Ouboet se beterskap net al die eer aan die Here gee. Ons kan sien Hy is betrokke en werk in sy liggaam.”

Lieb is bekend as akteur en musikant. Hy het die rol van Fritz Retief in kykNET se sepie Villa Rosa vertolk. Bester bespeel verskeie musiekinstrumente, waaronder die klavier, orrel, klawerbord, trekklavier, konsertina en kitaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hennie ·

Sterkte Lieb. Covid is niemand se maat nie. Ek hoop net die anti – vaxers kyk hierna.

Jack Russ1 ·

Gaan nie help hulle kyk nie. Daar is niemand so blind soos die wat nie wil sien nie

Pieter ·

Ek stem. Almal glo die bog wat mense versprei. My redinasie is, as die entstof jou kamma skade gaan aandoen, dan gaan Covid ook. Ek vat eerder my kanse en kom ligter van Covid af, en die land kan kudde immuniteit bereik en n beter kans staan op oorlewing en ons kan uit die lockdown snert uit kom.

SwartBees ·

Pieter, in Suid-Aapland moet jy nie jou asem ophou en hoop op kudde immuniteit sit nie. Nie soos dinge nou gaan nie.

Elinette ·

Hierdie “anti-vaxer” vat eerder haar kans om COVid normaalweg op te doen, as om ingespuit te word met wie-weet-wat-ookal en daarná COVid op te doen. ‘n Ingeligde persoon het vir my vanoggend vertel dat daar wel ‘n kans is om die virus op te doen na die inspuiting – as jou liggaam se weerstand goed is, sal jy waarskynlik nie daaraan siek raak nie, maar as jy onderliggende chroniese toestande het, soos diabetes en hoë bloeddruk moet jy maar eerder eers by jou dokter hoor of dit aanbeveelbaar is. Omdat ek ‘n diabeet is, wat nierskade het en ook ‘n hart-kondisie het, asook hoë bloeddruk en cholesterol het, stap ek maar eerder ‘n wýe draai om daai inspuiting.

Alta ·

Baie sterkte Lieb! Ek sal graag wil weet of die mensies wat so baie siek word gegaan het vir die vaksine?

Tanniepetoors ·

Nee, die wat die vaksine geneem het, word nie so ernstig siek nie.

Regtigegtig ·

Ek ken n oom wat onlang in hospitaal was vir covid en hy het gese al die ooms in sy saal was ingeent.

Peetjie ·

Sterkte vir jou Lieb Bester…asb byt vas en herstel asb volledig.. Ons bid vir jou en jou familie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.