Liefdadigheidsvlug voed afgeleë KZN-gemeenskap

Mercy Aids en Mercy Air het kragte saamgesnoer om kos en ander basiese benodigdhede na ‘n afgeleë gebied in die onlusgeteisterde KZN te stuur. (Foto: Carel Nel)

Danksy die gesamentlike pogings van die nie-winsgewende organisasies Mercy Aids en Mercy Air het ʼn klein gemeenskap in ʼn onlusgeteisterde gebied in KwaZulu-Natal weer toegang tot basiese voorrade soos kos, melkpoeier vir babas, doeke en medisyne.

Weens die onluste is paaie versper en het mense in baie gebiede nie toegang tot die enkele winkels wat nie die afgelope week deur plunderaars en betogers verwoes is nie.

Mercy Aids, wat daarop fokus om kwesbare bejaardes en kinders in veral die Wes-Kaap by te staan, het besluit die tyd is ryp om in KwaZulu-Natal ook ʼn handjie by te sit.

Tim Vieyra, voorsitter van Mercy Aids, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit aanvanklik moeilik was om te besluit presies waar die organisasie hulp moet verleen.

“Aangesien die hele provinsie byna in puin lê, paaie versper en petrol- en dieselvoorraad laag of op is, was dit aanvanklik oorweldigend om te besluit waar die grootste nood is.”

Dit was ook vir die organisasie belangrik om seker te maak die skenking beland in die regte hande.

“Ons het die afgelope paar jaar ons les geleer wat betroubare organisasies betref en ons wou seker maak die skenking word korrek aangewend.”

Mercy Aids en Mercy Air het kragte saamgesnoer om kos en ander basiese benodigdhede na ‘n afgeleë gebied in die onlusgeteisterde KZN te stuur. (Foto: Carel Nel)

Mercy Aids het ʼn lang verhouding met Tarryn Bell van die Butterfly Palliative Home in die noorde van KwaZulu-Natal, en het uiteindelik besluit om eerste op dié tehuis te fokus.

Die Butterfly Palliative Home is ʼn tehuis vir babas en kinders wat aan terminale siektes of toestande ly en wat weggegooi of verlaat is.

Padvervoer is tans ʼn gevaarlike opsie wat plundery en diefstal van die geskenkte goedere tot gevolg sou kon hê. Gelukkig is daar ʼn landingstrook vir helikopters naby die tehuis.

Die volgende uitdaging was om lugvervoer vir die goedere te bewerkstellig. Die Witrivierse lugvaartorganisasie Mercy Air het uiteindelik ingestem om teen ʼn reuse-afslag die goedere per helikopter van Witrivier in Mbombela, Nelspruit, na die Umkhanyekude-distrik te vervoer.

Die deelnemers in dié samewerkingspoging het die werk binne ʼn enkele dag afgehandel en die goedere is reeds Donderdag gestuur.

Vieyra voeg by dat die bestuurder van die Pick n Pay-winkel in Witrivier, Gerrit Pieters, ʼn groot aandeel in die sukses van die missie gehad het.

Mercy Aids en Mercy Air het kragte saamgesnoer om kos en ander basiese benodigdhede na ‘n afgeleë gebied in die onlusgeteisterde KZN te stuur. (Foto: Carel Nel)

“Hy het alles vir ons bymekaar gesit en gesorg dat dit in die helikopter gelaai word. Ons is baie dankbaar, want die goedere behoort die honger van die klein gemeenskap wat daarby gaan baat vind, vir ʼn maand of twee te stil.”

Kay Lorentz, koördineerder van Mercy Aids, sê dit was ʼn wonderlike samewerkingspoging wat beslis herhaal sal word indien hulle genoeg geld kan insamel.

“Ons as vriende en kollegas was so oorweldig deur alles wat in die land aangaan en ons wou graag ʼn verskil maak. Die manier waarop ons koppe by mekaar kon sit en die projek blitsvinnig aanmekaar kon sit, is regtig ongelooflik.”

Om by te dra tot Mercy Aids se projekte, besoek die webwerf. 18A-sertifikate is beskikbaar vir sakeondernemings wat tot die projekte bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Wees verseker NIE EEN van die vet uitgevreete ANC kaders lê ‘n oomblik wakker of stort ‘n enkele traan. Die hele situasie is soo ironies. Waar is grootmond Malema van EFF nou???

Chef

Dankie en respek!

Agge nee

Ek het altyd met ‘n oop hand gegee vir alle liefdadigheids-projekte, maar na hierdie afgelope week, het ek besluit dat ek self sal besluit wie kry my geld, (my eie hok se hoenders)

Kokerboom

Dankie vir AL die omgee en opbou mense. Dis in ons DNA

Elmarie

Die tehuis is vir kinders en babas wat aan terminale sdiektes ly of weggegooi is en hier is mense wat AFDUIPIES gee vir kommentare wat dankie sê vir die wat omgee en help? Dis nie of daardie kinders kan help hulle is gebore óf siek nie! Ek skaam my wragtig vir party “mense”. Ja dis elkeen se keuse wie hul wil ondersteun maar om negatief te wees teenoor die wat omgee of mense wat omgee bedank? Wat sê dit van jou? Gooi gerus die afduimpies vir my, ek gee nie om!