‘Liefdesdriehoek’ dalk rede vir moord op polisieman

Lt. kol. Reinier Lagois saam met sy ma, Ina Lagois-Mills. Foto: Verskaf

Lt. kol. Reinier Lagois saam met sy ma, Ina Lagois-Mills. Foto: Verskaf

Die broer van lt.kol. Reinier Lagois (42), wat verlede maand koelbloedig by sy huis in Pretoria doodgeskiet is, het gesê hy vermoed ʼn liefdesdriehoek is dalk die motief vir sy broer se moord.

Hennie Lagois het Woensdag aan Maroela Media gesê sy broer het saam met sy voormalige vriendin gebly, hoewel hulle nie meer in ʼn verhouding was nie. “Hy en [sy vriendin] het saam die huis gekoop waarin hulle gebly het. Nadat hul verhouding op die rotse beland het, het hulle ooreengekom dat sy in die huis sou aanbly en dat hy sou uittrek sodra sy, sy gedeelte van die eiendom gekoop het,” het hy gesê.

Reinier is egter op 18 Januarie voor sy huis in die Moot doodgeskiet. Hy is 14 keer geskiet. Sy gesteelde motor is later ʼn paar kilometer van die huis af gevind.

Konst. Rishen Rampashard van die Pretoria-Wes-polisiestasie is Vrydag in verband met die moord op Lagois in hegtenis geneem. Volgens Hennie was Rampashard die aand van die moord op die toneel, glo as ʼn familievriend. Hy het hom egter nie geken nie.

Hy vermoed Reinier se voormalige vriendin ken egter wel vir Rampashard, aangesien sy glo voorheen ‘n bevelvoerder van die Pretoria-Wes polisiestasie was, waar Rampashard gestasioneer is.

“Reinier het nooit vir my enigiets gesê oor wrywing tussen hom en [sy voormalige vriendin] nie. Hy het wel gesê hulle praat nie met mekaar nie en dat hy binnekort uittrek,” het Hennie gesê. “Hy het waarskynlik nie eens die persoon gesien wat hom vermoor het nie, want die eerste vier skote was in sy rug.”

Volgens Hennie is Reinier se voormalige vriendin waarskynlik nog nie deur die Valke se ondersoekspan ondervra nie, omdat sy tans in ʼn psigiatriese hospitaal behandel word. Hy kon nie sê waarvoor sy behandel word nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Rampashard het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn. Die saak is tot 8 Februarie uitgestel vir ʼn borgtogaansoek. Rampashard bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liewe heksie ·

Natuurlik is sy in hospitaal als moet eg lyk sodat sy nie die skuld kan kry vir haar aandeel in die moord nie !!!

DPJ ·

Liewe heksie ek kan nie ander as om met jou saam te stem nie.

Wouter ·

Ai dink ook hier is n slang in die gras. Nietemin baie jammer vir die oorledene en sy familie. Baie sterkte in die moeilike tyd.

frans ·

As n verhouding begins skeef loop verander skoenlaper maklik in n wolf

Moot ·

Dit is siek!!!! Reinier sal nooit weer terug gegee word aan ons nie. Om te sien hoe ‘n ma langs ‘n oop graf roep na haar seun,het duidelik nie deur een van die 2 se koppe gegaan nie. Dit het gegaan net oor haat! Mense wat aan hulself dink…selfsugtig, verdomde skuim van die see…!!!! Reinier het dit nie verdien nie. Hy het soveel gehad om voor te leef. Hy was ‘n aantreklik man, mees sagste persoonlikheid, hy was net die mees aangenaamste mens om mee te kon kuier. Kan dink haar senuwees gaan dit nie hou nie….dis nou net te naby dat die waarheid uit op die lappe is! Dis siek…………!!

vislip ·

Net omdat alle mense erg blootgestel word aan geweld sal ons agterkom almal vat erg kanse. Die sepies en flieks bedorwe ons inner mens. Daar is om een of ander rede 2 mense binne jou. Die mooi een wat die regte dinge doen. Maar die Ander persoon, hy ken God nie. Hy is selfsigtig. Hy haat en wil roof moor en steel!!!!!

Liewe Heksie ·

Moot: Ek se vir jou baie sterkte en vir jou ook Bettie maar die waarheid het n manier om uit te kom Sy is in die “hospital” om vir tyd te speel en ek beskuldig haar nie maar my sesde sintuig laat my selde in die steek Sterkte aan almal wat Reinier geken het en meeste van almal sy MOEDER

Hannelie ·

“What goes around, comes around”. So sy word nou ‘n psigiatriese pasient. Dit sê net een ding haar kop is nie reg nie. Hoekom het sy haarself maar nie eerder weg gevat nie. Hoekom ‘n ma se seun??? Maar sy sal gestraf word, sy seker gedink as sy nou psigiatriese behandeling kry, dat dit haar straf minder gaan maak? Voor God moet jy eendag verantwoording doen. Baie sterkte aan die familie van hom wat so wreed en onnodig afgemaai is.

Lizelle ·

Reinier en ek was verloof 20 jaar gelede – Hy was ‘n mens wat geglo het iets is reg of verkeerd. Maar hy was ook saggeaard, beskeie en het ‘n fyn humorsin gehad. Hoe meer ek te wete kom van hierdie sinnelose moord op hom – hoe meer skok die besliste, koudbloedige en beplande manier waarop sy lewe van hom weggeneem is. Die waarheid sal uitkom as daar meer as een moordenaar hier betrokke was. Ek bid vir elkeen van sy familie lede wat so diep hierdeur getref is…Mag geregtigheid hier en Eendag waar dit rerig saak maak seevier. Sterkte aan al die Lagoise – waar die regstelsel dalk faal in baie gevalle het ons ‘n God wat eendag as die ware Regter ‘n vonnis oor die koelbloedige moordenaar(s) sal fel. Rus in vrede Reinier – jou nagedagtenis sal nooit uitgewis word nie.

Dora ·

Ek wil baie graag weet, wat het daartoe gelei dat die konstabel aangekeer was? Hulle het seker ook n baie baie groot huis as nie sy of haar 2 tiener dogters gehoor het dat daar 14 skote buite afgaan nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.