Liefdesdriehoek: Vrou erken sy het kêrel help vermoor

mes-aanval

Argieffoto

ʼn Vrou van die Oos-Rand wat in ʼn liefdesdriehoek betrokke was, het glo erken dat sy,  haar minnaar en dié se vriend die afgelope naweek haar kêrel vermoor het.

Sers. Styles Maome, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die drie het glo die vrou se kêrel, saam met wie sy gebly het, in die Makause informele nedersetting naby Germiston om die beurt met ʼn skerp voorwerp gesteek.

“Die vrou het Vrydagaand saam met haar 28-jarige minnaar en sy vriend gaan drankies drink toe hulle geld opgeraak het,” het Maome gesê. “Sy het aan die twee mans gesê sy weet haar kêrel het sy salaris gekry en hulle kan hom gaan beroof.”

Die drie het die kêrel by sy plakkershuis oorrompel. Die minnaar het hom glo eerste met ʼn skerp voorwerp in sy onderlyf gesteek.

“Die drie het toe die geld in die huis gesoek, maar kon niks kry nie. Hulle het ʼn DVD-speler en twee dekodeerders gevat. Hulle was reeds op pad toe die vrou ontdek die slagoffer haal steeds asem. Sy het hom ook met die skerp voorwerp gesteek,” het Maome bygevoeg. “Die vriend het die man toe ook met die skerp voorwerp gesteek.”

Hulle het hierna glo die slagoffer ontklee en met die man se bebloede klere gevlug.

Die polisie het die vrou ná die voorval ondervra en sy het skuld beken op die moord. “Die minnaar het op sy beurt ook skuld beken. Die slagoffer se DVD-speler is ook in sy huis gevind.”

Die kêrel het aan die polisie gesê hulle het die slagoffer se klere en die twee dekodeerders verbrand.

Die polisie het intussen die vriend opgespoor en al drie is in hegtenis geneem op ʼn aanklag van moord.

Die verdagtes het Woensdag in die Germiston-landdroshof verskyn. Die saak is tot 14 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eduard ·

Ek verstaan nie die sin nie dalk “aan die brand gesteek”?

“Die kêrel het aan die polisie gesê hulle het die slagoffer se klere en die twee dekodeerders aan die verbrand.”

Sune van Heerden ·

Dagsê Eduard

Ons vra om verskoning vir die fout wat ingesluip het. Ons het die wysiging aangebring.
Dankie dat jy ons daarop gewys het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Theresa ·

Goeie genade. Sommer net so. Asof dit hare-kam of tandeborsel is. Besluit sommer nou doen ons dit, dit dit ook en daar gaan hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.