‘Liewer laat as nooit’; Molefe, Singh en ander in hof

(Argieffoto)

Brian Molefe, voormalige Transnet-hoof en ook ʼn oudbaas van Eskom, was Maandagoggend onder die groep hoëprofielhoofde wat in verband met korrupsie van miljoene rand by Transnet in hegtenis geneem is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se onafhanklike ondersoekdirektoraat (OD) het vroegoggend gesê die inhegtenisnemings is deur reëlings met die beskuldigdes se regsverteenwoordigers gedoen en met die hulp van die Valke uitgevoer.

Anoj Singh, ʼn voormalige finansiële bestuurder by Transnet, is ook onder die groep topbestuurders wat aangekeer is. Saam met hulle in die beskuldigdebank is ook Niven Pillay en Litha Nyhonyha, direkteure van Regiments Capital.

Hulle word verbind met korrupsie en bedrog ten bedrae van sowat R93 miljoen by Transnet.

Die DA het die inhegtenisnemings verwelkom. “Terwyl ander mense reeds aangekla is, lyk dit of die laaste se kierankies nou ook gaan uitbraai,” sê adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling.

“Onder Molefe en Singh het die Guptas en ander ANC-kaders Transnet as hulle eie spaarvarkie gebruik.”

Breytenbach sê die volgende stap is nou om die R41,2 miljard se kontrakte wat toegeken is aan maatskappye met bande met die Guptas en hul meeloper Salim Essop, te herwin.

“Miljarde rand wat gebruik moes word om Suid-Afrika in ʼn voorspoedige land te omskep, is gesteel en gemors tydens die staatskapingsjare.

“Die DA hoop die inhegtenisnemings van Molefe, Singh en ander Transnet-topbestuurder is eindelik die begin van geregtigheid en dat almal anders wat betrek word, sal volg.”

Die Palm Ridge-handelshof in Johannesburg hoor tans die beskuldigdes se aansoeke om borgtog aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

SjN ·

Vertrou dinge gaan nou gebeur, het Molefe al sy miljoene tov sy pesioenfonds terugbetaal?

Klaar me Maroela ·

@SjN, glo nie hy het al nie. Altans kon geen bertigte spoor wat beweer dat hy dit al betaal het nie.
Die geld wat hy aan Eskom se pensioenfonds moet terugbetaal is nie verwant aan hierdie saak nie.
Hierdie saak handel oor die korrupusie wat hy na bewering gepleeg het terwyl hy by Transnet was.

Herman L ·

Dit is ‘n goeie begin. Dis dalk ‘n risiko om hulle op borg vry te laat. Wat het van die Guptas se uitlewering geword?

efjy ·

Dis glad nie ‘n goeie idee om aan hulle borg te gee nie. By die tyd wat hulle skuldig bevind word, indien ooit, het hulle al die miljarde verduister. Ek sal graag wil sien dat enige bates ten minste bevries word tot tyd en wyk die saak afgehandel is.

Johann ·

Lekker om gearesteer te word nadat “reëlings” met jou regs span getref is? ANC KADER MAFIA met voordele.

Casper ·

Is Mokefe dan nie meer ‘n majoor in die weermag nie,want ek sien hulle geldsake lyk beroerd.

Waarnemer ·

En mpofu het dit weer reggekry om almal op waarskuwing vrygelaat te kry…..sluit die landsgrense.

Mariana ·

Brian Molefe word alweer verbind aan skelmstreke. Vraag is nou wanneer hy dan nou gaan aan die pen ry, so ook sy maters.

Catherina ·

Miskien tronkstraf later maar ai, onthou korruptes in hierdie land is meestal terminaal en dan min of geen tronkstaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.