Life Esidimeni: 91% uit NRO’s verwyder

Gwen Ramokgopa en Aaron Motsoaledi tydens ‘n vorige perskonferensie. Foto: ANA

Altesaam 91% van die oorblywende Life Esidimeni-pasiënte is na geskikte fasiliteite oorgeplaas en ongeveer 20 nie-regeringsorganisasies (NRO’s) waar hulle voorheen versorg is, is toegemaak.

Só het dr. Gwen Ramokgopa, die Gautengse LUR vir gesondheid, Sondag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê. Ramokgopa het gesê die departement het deurentyd probeer om professioneel, deursigtig en versigtig op te tree in die proses om die pasiënte na geskikte fasiliteite oor te plaas.

Ramokgopa het gesê die oorplasing van pasiënte het op 3 Maart begin en teen 26 April is 750 pasiënte na drie verskillende fasiliteite oorgeplaas. Volgens Ramokgopa is 91% van die geskikte pasiënte tot dusver oorgeplaas. “Sommige pasiënte is steeds by die NRO’s weens verskeie redes soos families en pasiënte wat weier om oorgeplaas te word en sommige eienaars van die NRO’s wat regstappe gedoen het. Ons doen ons bes om hierdie kwessies volgens die beste belange van die pasiënte uit te sorteer,” het Ramokgopa gesê.

Sy het gesê pasiënte want tans in algemene en psigiatriese hospitale opgeneem is sal daar bly totdat hulle gesond genoeg is om oorgeplaas te word. “Van hierdie pasiënte is 378 in langtermynbeddens en 50 is in akuteversorgingbeddens in staatshospitale. Sedert die bekendstelling van die gesondheidsombudsman se verslag het vyf pasiënte aan natuurlike oorsake gesterf,” het sy gesê.

“Ten spyte daarvan dat die oorsaak van hierdie pasiënte se dood as natuurlik aangedui is, het ons opdrag gegee dat nadoodse ondersoeke gedoen word en wag ons op die uitslag daarvan.”

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind meer as 100 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood aan verwaarlosing en ondervoeding. Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank kort voordat die verslag bekendgestel is. Sy het vroeër gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak.

Die ombudsman het ʼn lys aanbevelings in die verslag gemaak, onder meer dat die pasiënte binne ʼn spesifieke tydperk uit die sorg van die NRO’s verwyder moet word.

In die ombudsman se verslag het hy drie sleutelspelers in dié verband geïdentifiseer, naamlik Mahlangu, dr. Tiego Selebano, hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement, en die departement se direkteur van geestesgesondheid, dr. Makgabo Manamela. Selebano en Manamela is sedertdien geskors.

Ramokgopa het Sondag gesê die tugproses van Selebano en Manamela is tans aan die gang. “Met betrekking tot die ander beamptes wat in die verslag genoem word, is ʼn privaat prokureur deur die departement aangestel om die saak te ondersoek en bewyse tydens die dissiplinêre ondersoeke aan te voer,” het sy gesê.

“Ons werk as die departement sal nie eindig by die implementering van die gesondheidsombudsman se aanbevelings nie. Ons fokus daarop om ons verhouding met verskeie aandeelhouers en burgerlike organisasies te versterk, wat noodsaaklik is vir gesondheidsdienslewering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

Hierdie was n tragiese ramp deur die anc wat nie omgegee het vir die mense en kamtig geld wou spaar ….en nie eers een van die plekke waar die mense na geneem is was gerigistreer ….nie eers die heel basiese vereistes is ondersoek …het mens nodig om meer te se van hoe onbevoeg die anc regering is …..

Esme Strauss ·

My eie kind was hierdeer affekteer tot op n punt waar ek hom summier verwyder het. Die skuldiges moet aangekla word van moord!

Wat 'n klug ·

Op die foto in die agtergrond staan: “Moving SA forward”.
Wat ‘n klug!!

Rupert Ashford ·

En so is alle stelsels uit die ou SA wat net geneem moes word as basis en dan instand gehou en uitgebrei moes word in die grond in afgebreek. Cry the beloved country…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.