Life Esidimeni-beampte: ‘Ek is skuldig’

Hanna Jacobus, adjunk-direkteur by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: Brenda Masilela/ANA

ʼn Werknemer van die Gautengse departement van gesondheid het Donderdag aan die arbitrasieverhoor van die Life Esidimeni-tragedie gesê dat Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, teenwoordig was in vergaderings en dus bewus was van die feit dat onwettige lisensies aan nieregeringsorganisasies (NRO’s) uitgereik is.

Hannah Jacobus, adjunk-direkteur by die Gautengse departement van gesondheid, wat in beheer was van die keuring van die NRO’s waar 143 psigiatriese pasiënte gedurende die Life Esidimeni-tragedie dood is, het Donderdag gesê haar baas, die direkteur van geestesgesondheid, dr. Makgabo Manamela, het haar gedwing om nie die korrekte ouditprosedure te volg toe lisensies aan die NRO’s uitgereik is nie.

Jacobus het gesê Manamela het verduidelik dat as gevolg van die feit dat Life Esidimeni sou sluit daar nie tyd was om die korrekte kanale in die ouditproses te volg nie.

Jacobus, wat al 30 jaar by die departement werk, het gesê tydens ʼn vergadering met verskeie belanghebbendes het die departement nie erkenning gegee aan die familie se bekommernisse nie.

Die pasiënte wat oorgeplaas is, het gesterf van onder meer verhongering en verwaarlosing. Tot soveel as 59 van hierdie pasiënte word nog vermis.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het aan Jacobus gevra hoekom sommige NRO’s vir drie maande nie betaal is nie.

Jacobus het gesê die openbare finansiële bestuursprosesse was nie gereed om te verseker dat die NRO’s betyds betaling ontvang het nie.

“Ek het probeer om die papierwerk bymekaar te kry, maar is gekeer. Manamela het gesê as gevolg van die hoeveelheid werk moet die koördineerders vir ʼn rukkie wag en die befondsingsproses sal later gedoen word,” het sy gesê.

ʼn Huilerige Jacobus het gesê Manamela het vir haar gesê sy moet iemand bel om te reël vir linne vir die NRO’s. Sommige NRO’s het op die ou end self vir die linne betaal en een NRO-eienaar het glo sy huis verloor nadat hy homself moes finansier.

Jacobus het toegegee dat daar ʼn kultuur van vrees in die departement was en sy kon nie behoorlik haar werk doen nie.

“Op ʼn manier was ek bang vir dr. Manamela, want sy wou nie na enigiemand luister nie. Ek was lugtig vir ander beamptes,” het Jacobus gesê.

Moseneke het haar gevra wie sy dink moet verantwoordbaar gehou word vir die 143 sterftes.

“Dit is ʼn moeilike vraag, ek weet nie,” het Jacobus gesê.

“Wie het wat verkeerd gedoen? Jy is al daar vir 30 jaar,” het hy gevra.

Jacobus het gesê “ons het baie verkeerd gedoen deur nie prosedures te volg nie” en het bygevoeg sy moet verantwoordbaar gehou word vir haar optrede.

“Hierdie was ʼn baie pynlike leerproses. Ek is skuldig dat ek betrokke was by die vervalsing van lisensies,” het sy gesê.

Mahlangu, wat wyd blameer word vir die mislukte projek, sal glo Maandag getuig.

Jacobus sal Vrydag verder getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

30jaar diens daarmee heen so onnodig…dit leer n mens om van die begin eerlik te wees die kan duur te staan kom soos hierdie geval.

Piet Pompies ·

Dit is jammer dat die ondergeskiktes die pyn moet verdra van ‘n bestuurder se swak besluite en dreigende houding teenoor werknemers. Die hoogste prys is alreeds betaal deur die afsterwe van die pasiente. Die straf vir hierdie optrede is uitstaande en ek hoop dat die prys hiervoor net so hoog gaan wees. Swak optrede is gou en kan indrukwekkend wees, maar as die wet jou vat, dan vat hy jou.

M ·

Ek volg hierdie saak baie nou… en dit is die eerste keer sover ek kan onthou dat iemand verantwoordelikheid aanvaar vir haar eie dade… voorheen het almal nog die “pass the buck” speletjie gespeel!

Dirk ·

Sy is nie die enigste skuldige beampte nie. Ek het wel empatie met haar. Ek twyfel of sy werklik besef het dat die uitreik van ver valste lisensies so n nadraai sou he. Aangesien ek self 32 jaar diens tydperk gehad het, verstaan ek haar bewering van “kultuur van vrees”. Ek sou selfs viktimisasie by sit. My vrae is: Gaan hierdie beampte n “scape goat” gemaak word aangesien sy skuld erken? Gaan daar moeite gedoen word om die argitekte van hierdie uiters kriminele voorval te identifiseer en aan te kla?

CHRISTA ·

Ek kan dit nie verstaan nie!! AL die dienste wat die ANC beloof het GRATIS gaan wees as hulle aan bewind kom, gaan nou ten gronde onder hulle bewind – “Free medical services” , “free housing”, “free education”, “free water and electricity” – dit is ALS besig om ten gronde te gaan!!

Wat gaan ons doen?!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.