Life Esidimeni: Beampte ‘gedwing om nie prosedure te volg’

Hanna Jacobus, adjunk-direkteur by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: Brenda Masilela/ANA

ʼn Adjunk-direkteur by die Gautengse departement van gesondheid, wat in beheer was van die keuring van die nie-regeringsorganisasies (NRO’s) waar 143 psigiatriese pasiënte gedurende die Life Esidimeni-tragedie dood is, het Donderdag gesê haar baas, die direkteur van geestesgesondheid, dr. Makgabo Manamela, het haar gedwing om nie die korrekte ouditprosedure te volg toe lisensies aan die NRO’s uitgereik is nie.

Dr. Barney Selebano, die hoof van die departement, en Manamela, wat albei vroeër voor die Esidimeni-arbitrasieverhoor getuig het, het vandeesweek bedank.

Hanna Jacobus, die adjunkdirekteur, het Donderdag voor afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke getuig. Sy het getuig Manamela het aan haar gesê die korrekte prosedure kon nie gevolg word nie weens die dreigende sluiting van Life Esidimeni.

Jacobus het gesê nadat sy vir Manamela vrae gevra het, is sy verwyder van die kernfunksies van die sogenaamde kostebesparingsprojek om die pasiënte na 27 NRO’s oor te plaas. Manamela was aan die hoof van dié projek.

Die pasiënte wat oorgeplaas is, het gesterf van onder meer verhongering en verwaarlosing. Tot soveel as 59 van hierdie pasiënte word nog vermis.

Toe Moseneke vir Jacobus gevra het wat sy gedoen het toe sy ʼn opdrag ontvang het wat sy geweet het is verkeerd, het sy geantwoord sy het ongemaklik gevoel. Sy het gesê sy het egter voortgegaan met haar pligte alhoewel sy geweet het om die prosedure te verontagsaam is verkeerd.

“Ek is opdrag gegee om voort te gaan met die lisensies [se uitreiking] omdat dit buitengewone omstandighede was,” het sy gesê.

Jacobus het gesê teen die tyd dat sy gehoor het van die dood van die pasiënte, het meer as 80 van hulle alreeds gesterf. “Tot vandag toe is ek spyt oor die besluite wat ek geneem het,” het sy gesê.

Sy het ook gesê haar voormalige baas, Manamela, het tydens haar getuienis gelieg toe sy gesê het sommige van die NRO’s is geoudit. Jacobus het gesê daar is by geen van die fasiliteite inspeksie gedoen soos deur die ouditprosedure vereis word nie.

Moseneke, ooglopend nie beïndruk nie, het haar gevra hoekom almal in haar departement net die blaam na die volgende persoon verskuif, maar Jacobus het volgehou dat sy die waarheid praat.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

die families wat links en regs eise instel is net so skuldig.

Alida ·

Die weerlose mense is nou DOOD. 143 van hulle en wat gaan nou met die skuldiges gebeur? Om te bedank gaan niks beter maak nie. Hulle moet steeds verantwoordelik gehou word want hierdie tragedie het plaasgevind toe hulle in diens van die Dept van Gesondheid was. Dit is niks meer as reg nie.

skerwe ·

as die families hulle mense ten minste net besoek het, was hulle nog in die land van die lewendes. maar hulle het hulle mense weggegooi. hoekom gaan hulle vergoed word vir verwaarlosing van weerlose verstandelike gestremdes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.