Life Esidimeni: Beampte huil histeries, sê jammer

Hannah Jacobus tydens die verhoor. Foto: ANA.

Hannah Jacobus, adjunkdirekteur by die Gautengse departement van gesondheid, wat in beheer was van die keuring van die NRO’s waar 143 psigiatriese pasiënte gedurende die Life Esidimeni-tragedie dood is, was Vrydag ontroosbaar terwyl sy erken het dat dit verkeerd was om nie die projek stop te sit waartydens die pasiënte dood is nie.

“Ek voel so verneder, so nutteloos,” het Jacobus gesê terwyl sy histeries gehuil en die families van die oorledenes om verskoning gevra het.

“Ek is jammer vir die pyn en hartseer wat die families beleef. Ek wil vir die land in geheel jammer sê oor die instelling van die projek wat soveel sterftes tot gevolg gehad het. Ek is spyt dat ek nie meer gedoen het om die projek van mý kant te keer nie,” het Jacobus gesê.

Donderdag het sy die skokaankondiging gemaak dat haar hoof, die direkteur van geestesgesondheid, dr. Makgabo Manamela, haar opdrag gegee het om die lisensies uit te reik sonder om die korrekte prosedures te volg.

Jacobus het toegegee dat daar ʼn kultuur van vrees in die departement was en sy kon nie behoorlik haar werk doen nie.

“Op ʼn manier was ek bang vir dr. Manamela, want sy wou nie na enigiemand luister nie. Ek was lugtig vir ander beamptes.

“Ek het wyser geword; ek is verskriklik jammer dat ek toegelaat het dat die bestuur my boelie. Ek bid en vra dat mense saam met my bid dat ek oor hierdie skuldgevoelens kan kom,” het Jacobus gesê.

Jacobus het vroeër tydens kruisondervraging van Lilla Crouse van Legal Aid SA erken dat Manamela aan hulle gesê het dit was Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, se plan om die departement se kontrak met Life Esidimeni te beëindig.

Jacobus is onderwerp aan ʼn dissiplinêre verhoor en het ʼn finale waarskuwing ontvang. Sy dien steeds as die provinsie se adjunkdirekteur nadat sy vir ses maande op ʼn proeftyd geplaas is.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het die dissiplinêre verhoor as ʼn tik oor die vingers beskryf.

“Jy het ʼn finale waarskuwing ontvang ná al daardie lyding en sterftes. Jy kom darem baie lig daarvan af, reg? Dis asof jy laat by die werk aangekom het. Dink jy ʼn geskrewe waarskuwing is genoeg straf?” het Moseneke gesê.

“Die emosionele en persoonlike uitwerking is veel erger as die geskrewe waarskuwing. Ek ly nog daaraan,” het Jacobus gesê.

Mahlangu, wat wyd beskuldig word vir die mislukte projek, sal glo Maandag getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Martie ·

Maak nie vir my sin nie en om nou te wil huil en jammer te se sal nooit die pasieente terug bring.Sy is et so skuldig soos die een wat die opdrag gegee het.

zoom zoom ·

Jammer bring nie die oorledes terug nie. Gaan sekerlik ook nog met miljoene rand beloon word

Vermeende ·

Almal wat gevang word huil en is dan vreeslik jammer, sy moes al jammer gewees het voor sy gevang is. Hoekom word sy nie van moord aangekla nie, sy erken dan dat haar optrede tot die mense se dood gelei het.

snoefie ·

martie, laat ons nie buite rekening laat dat die treurende, wenende families se apatie teenoor hulle versteurde familielede n groot bydraende faktor was nie.nou sien meeste van hulle net n see van geld om die “pyn en lyding” te vergoed. hulle kon ook gepraat het. maar hulle het nie van hierdie vergryp geweet nie omdat hulle nooit die familie lede gaan besoek het nie. my simpatie aan die enkeles wat wel probeer keer het.

Ag asseblief tog stop die vertoning net! ·

Trane is te laat …hul is in jul sorg gelaat en is daar dood!!! Nou moet jul maar die prys betaal!! Geen genade vir julle nes soos jul geen genade vir al daai onskuldigge slagoffers gewys het nie…

Justice ·

Toe sy dieselfde emosie moes betoon aan die wat dit nodig gehad het was dit afwesig.

Johan ·

Die gehuilery gaan nie beteken jy moet nie vervolg word nie….so jy het erken jy is verkeer nou vat jou straf wat jy toekom….

ferdi ·

Stuur ha saam anner tronk ni sy hoort ni in di pos ni net soos bai ander Eskom SAlugdiens en vele meer

Christo ·

Alhoewel ek weet dat dit wat sy moes doen verkeerd was, wil ek net vir die lesers gesê dat wit en bruin staatsamptenare geboelie word deur hulle swart hoofde. Ek as wit staatsamptenaar weet, want ek beleef dit gereeld. Haar hoofde bedank en was hulle hande in onskuld.
Ek wens die kommissie van ondersoek in Marikana was so deeglik. Die eksPolisie hoof het net mooi niks oorgekom nie want sy is mos ‘n ANC meeloper.

Irma ·

Die persoon wat haar Hannah Jacobus aangestel het is skuldig!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.