Life Esidimeni: Creecy moet sê oor ‘gebrek aan geld’

Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir finansies. Foto: ANA

Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir finansies, sal vandeesweek tydens die arbitrasieverhoor ná die Life Esidimeni-tragedie na die getuiebank opgeroep word om die getuienis van een van haar voormalige kollegas te bevestig of te weerlê.

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het verlede week in haar getuienis oor die oorplasing van psigiatriese pasiënte na verskeie ongeregistreerde NRO’s, waartydens minstens 143 pasiënte van onder meer dehidrasie, honger en verwaarlosing gesterf het, dié tragedie aan finansiële gebreke toegeskryf.

Creecy, wat nie op die amptelike getuielys is nie, sal vandeesweek opgeroep word om duidelikheid te gee oor die provinsiale departement van gesondheid se finansies nadat adv. Tebogo Hutamo vir die staat gesê het haar getuienis is noodsaaklik om antwoorde te verskaf op die vrae wat tans nog in die lug hang.

Die provinsiale gesondheidsdepartement het gesê die besluit om die pasiënte oor te plaas was gemik op kostebesparing aangesien hulle by Life Esidimeni R320 per pasiënt per dag bestee het in vergelyking met die R112 per pasiënt per dag wat die NRO’s gevra het.

Regsverteenwoordigers van Legal Aid en Section 27 het hul kommer uitgespreek oor die byvoeging tot die getuielys omdat dit die verhoor verder sou uitrek.

Die voorsitter van die verhoor, afgetrede adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, het egter gesê Creecy se getuienis is relevant aangesien dit duidelikheid sal gee of kostebesparing die werklike rede agter die beëindiging van die departement se kontrak met Life Esidimeni was.

Creecy sal na verwagting môre saam met David Makhura, premier van Gauteng, getuig. Hul getuienisse sal gevolg word deur dié van Gwen Ramokgopa, die huidige LUR vir gesondheid in die provinsie, en Aaron Motsoaledi, die nasionale minister van gesondheid, Woensdag.

Christoffel Grobler, ʼn psigiater, het Vrydag aan die verhoor gesê die departement van gesondheid het nie veel oor die deïnstitusionalisering van pasiënte gedink nie.

“Dit is menslik onmoontlik om so ʼn groot getal pasiënte te skuif en die verslae te hê wat nodig is om dit te doen.” Hy meen die oorplasing was wreed en kom neer op strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SS ·

Dis darem altyd so interresant hoe vol bravade en vol van hulself hierdie mense tydens die gebeure was,nou kan botter nie in hul mond smelt nie. Meeste is ook te papbroekig om hul aandeel te erken,dis nou collective responsibility!

Frans C ·

Die gewone verskoning tekort aan finansies geld net wanneer dit by die voorsiening van noodsaaklike dienste kom,maar nie by salarisse,lone en toelaes van amptenare nie.

zoom zoom ·

Dalk moet Creecy sê oor die gebrek aan verstand want dit was die hoof probleem voordat daar gekyk mos word na geld.

Gestremde ·

As daar nou voorgedoen word dat die Life Esidimeni-tragedie veroorsaak was as gevolg van ‘n tekort vir geld versoek ek dat die SA Nasionale Lottery ook voor die hof gedaag moet word vir die feit dat die miljoene se winste reeds beskikbaar gestel moet word vir gestremdes. As daar gekyk word dat daar tussen R5 – 10 miljoen se wins gemaak word met elke trekking dan wil dit vir my voorkom of die geld ook misbruik word.

Annelize ·

Hoe de joos versorg jy iemand met spesiale behoeftes teen R112 per dag? Dit is onmoontlik! Hulle moes geweet het dit is te goed om waar te wees!

Antjie ·

Ek hoop van harte die tesourie het meer verstand om te verstaan waarvoor betaal is met die R320 rand, en waarmee duidelik weggedoen is vóór die oorplasing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.