Life Esidimeni: DA doen dié stappe om geld te verhaal

Jack Bloom. Foto: ANA.

Die DA het Dinsdag gesê hy het aan David Makhura, premier van Gauteng, geskryf om te eis dat hy stappe doen om ván die geld wat as vergoeding vir die slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie uitbetaal is van die verantwoordelike beamptes te verhaal.

Die party het glo ook briewe aan Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid, geskryf om die proses van stapel te stuur om die geïmpliseerde beamptes te dwing om te betaal vir hul optrede.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, het gesê dié beamptes sluit volgens die DA in Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, Barney Selebano, voormalige hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, en Makgabo Manamela, voormalige direkteur van geestesgesondheid.

Minstens 144 psigiatriese pasiënte is dood nadat die Gautengse departement van gesondheid in 2016 sowat 1 700 pasiënte van Life Esidimeni-fasiliteite na NRO’s sonder lisensies en die nodige geriewe verskuif het.

“Ons dring aan dat Mahlangu en ander senior beamptes direk betaal vir hul opsetlike kriminaliteit wat tot die enorme lyding van kwesbare persone en 144 sterftes gelei het,” het Bloom gesê.

Bloom het die Wet op Verdeling van Skadevergoeding aangehaal wat dit stel dat meer as een persoon verantwoordbaar gehou kan word vir ʼn onregmatige daad. Volgens hom moet stappe ingevolge die wet binne een jaar gedoen word.

Maroela Media het vroeër berig die provinsiale regering het R159 460 000 aan die 134 eisers wat deel was van die alternatiewe dispuutoplossingsproses betaal.

In Maart is R1 miljoen grondwetlike skadevergoeding en R200 000 algemene skadevergoeding vir lyding en begrafniskoste aan oorlewendes en gesinne van die oorledenes toegeken.

Dit het tydens die arbitrasieverhoor aan die lig gekom dat die pasiënte van koue, honger, ontwatering en algemene verwaarlosing gesterf het.

Bloom het verduidelik dat dié geld van die begrotings van provinsiale regeringsdepartemente afkomstig is. “Dít het ʼn negatiewe uitwerking op dienslewering.”

Bloom het gesê die DA glo dat belastingbetalers nie hoef te betaal vir die onregmatige gedrag van regeringsbeamptes nie en dat die beamptes uit hul eie sakke moet betaal vir die skade wat hulle veroorsaak het.

“Mahlangu het byvoorbeeld R1,9 miljoen per jaar verdien en is weg [by die departement] met ʼn stewige pensioen terwyl Selebano en Manamela ook heelwat verdien het,” het Bloom gesê.

Die DA het die regering 60 dae gegee om regstappe teen die beamptes te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dankie tog. Die DA doen ten minste iets. Die meeste ander partye praat en praat net. Die ANC sit net en word vet.

Alida ·

Mooi so DA hulle kan nie wegkom met 144 moorde nie. Dis tyd dat daar iets gedoen word.

humor ·

Dit kan nie net gaan oor terugbetaling nie. Hulle het misdaad gepleeg en moet straregtelik vervolg word. Ons wag dringend Gerrie Nel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.