Life Esidimeni: ‘Ek het nie van risiko geweet’, sê LUR

Qedani Mahlangu. Foto: ANA

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het Maandag in die Life Esidimeni-bemiddelingsverhoor getuig sy was nie bewus van die risiko wat die projek ingehou het nie.

Mahlangu word wyd geblameer vir die oordrag van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni-klinieke na nieregeringsorganisasies. Dit het tot die dood van minstens 143 pasiënte gelei.

“Ek het nooit inligting ontvang dat die projek ʼn risiko is nie of dat die implementering daarvan die lewe van pasiënte sou bedreig nie. Ek het oor die algemeen positiewe verslae ontvang,” het Mahlangu getuig.

Sy het ʼn verklaring voorgelees en haarself van die projek gedistansieer. Mahlangu het dr. Barney Selebano, geskorste departementshoof van die Gautengse departement van gesondheid wat verlede bedank het, geïmpliseer. Sy het gesê die hoof van die departement het die finale outoriteit gehad oor die plan en kon sonder haar goedkeuring optree.

Volgens Mahlangu het sy geen rede gehad om die geloofwaardigheid van die inligting wat aan haar verskaf is in twyfel te trek nie.

“Ek het nie aanvanklik berigte ontvang oor ʼn gebrek aan kos nie. Daar is vir my gesê pasiënte word van Life Esidimeni geskuif met slegs ʼn week se voorraad medisyne, maar andersins was die berigte positief.”

Volgens Mahlangu het sy nooit enige klagtes van die psigiatriese pasiënte se familielede ontvang nie. Sy het gesê sy het die voorstel gemaak dat familielede ʼn komitee begin en dat sy selfs haar persoonlike selfoonnommer vir hulle gegee het. “Ek kan nie onthou dat ek een oproep ontvang het nie.”

Familielede wat die verhoor bywoon het Mahlangu onderlangs daarvan beskuldig dat sy nie die waarheid vertel nie.

Mahlangu het vroeër terwyl sy haar verklaring voorgelees het, om verskoning gevra. “Ons gesondheidsorgstelsel het ten doel om lewens te beskerm en waar moontlik te verleng. Duidelik het dit nie volgens plan verloop nie en hiervoor vra ek onvoorwaardelik om verskoning. Vir die families wat hul geliefdes verloor het, is ek innig jammer vir julle verlies en mag hulle siele in vrede rus.”

Volgens Mahlangu het die projek goeie bedoelings gehad en was dit nie die departement se plan dat daar lewensverlies moes wees nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Wat n pot tjol!
Die LUR wat die oorhoofse verantwoordelikheid moet neem?
Weereens n bewys van die katastrofale gevolge van kaderontplooing.
Dis nie my skuld nie, dis nie jou skuld nie, dis n ander man se skuld wat jul oor baklei!
Met erkenning aan die FAK.

Gestremde ·

Ek wil net graag vir Me. Qedani Mahlangu vra of sy in belang van die geestes gestremdes opgetree het of eerder gekyk het waar sy geld kon bespaar, wat in elk geval misbruik word? Was daar ooit ‘n audit gedoen om die nie-regeringsorganisasies om te bepaal of hul geestesgestremdes kon akkommodeer en hy sy selfs na die besluit sulke organisasies gaan besoek. Ek betwyfel dit ook sterk dat sy as staatsamptenaar haar selfoonnommer beskikbaar gestel het of enigsens persoonlik betrokke geraak het. Daar is verskeie nie-regerings organisasies wat betrokke is by gestremdheid wat ek glo nie eers genader is nie. As iets jou nie persoonlik raak nie, is die kanse goed dat jy verkeerde besluite neem. Die geestesgestremdes kon nie besluite vir hulself maak nie en die maklike uitweg was geneem om hulle minder ‘n las vir die staat te maak om ‘n paar rand te spaar. Bly om te hoor sy is die voormalige LUR vir gesondheid want sy kan nie eers die verantwoordelikheid aanvaar vir haar eie foute nie. Hoop van harte sy is nie eendag in ‘n situasie waar iemand anders wat onbevoeg is ‘n besluit moet maak oor haar toekoms nie.

Lientjie ·

Volgens ‘n vorige berig en getuie was daar nooit audits gedoen nie.

Johann Marx ·

Goed gestel. Relevante vrae. Maar ek stem nie saam met jou laaste sin nie. Sy MOET in ‘n situasie opeindig waar iemand onbevoeg oor haar toekoms ‘n besluit moet maak!!! Is dit nie wat sy gedoen het nie?

Nienie ·

Sy moes dit juis haar werk gemaak het om hierdie dinge te weet. Dis hoekom sy d LUR is. Wil graag d pos beklee tesame met d salaris, maar wil geen verantwoordelikheid dra nie.

Speedguard ·

Riouna, gee kans, hulle moet die Arbitrasie proses voltooi, Ek weet nie of jy opgemerk het nie, Mnr. Zwelinzima Vavi woon ook die verrigtinge by, hy sal dit beslis nie daar los nie en kan ek jou belowe die voorsittinde Regter is reeds diep gatvol en sal hy dit beslis ook verder neem! Hoop werklik ek voorspel reg anders het ek regtig nog die bietjie hoop wat ek het ook verloor !!!

Robert ·

Die vrou moes self toe gesien het dat die NRO’s geskik is om die pasiente te kan ontvang. Die basiese van water en kos was daar nie eens gewees nie wat nog te sê personeel wat na die psigies gestremde mense moet kyk. Sy is skuldig. Asseblief mense daar is nie iemand wat geestesgestremd is nie dit is psigies gestremd. Jy ontvang jou gees van God af en jy kan dit nie gestremd maak nie, ook nie Satan nie, en God vat dit nie van jou weg of maak dit verwronge nie!

marous ·

Het sy geweet dat sy die pos gekry het om te kan dink??????

Martin ·

Totaal onbevoeg, nou lieg sy haar self uit die gemors uit, moes nooit aangestel gewees het nie.

Willie ·

Ja ja, dis nie my skuld dat julle vir my hierdie moeilike werk gegee het nie…

Skande! ·

Hoe laat jy 143 mense sterf onder jou toesig en wil dan jou hande in onskuld was na besluite wat deur jou gemaak is????
As jy die belangrikke poste aan die onbewames los dan is die wat ons mos kan verwag!
Nou wil ek sien of hul die prys gaan betaal vir hul nalatigheid en onbevoegheid wat gelei het tot die ramp! Soos ek Suid Afrika ken seker nie!
Ongelooflik !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.