Life Esidimeni: Premier getuig

David Makhura, premier van Gauteng Foto: GCIS

David Makhura, premier van Gauteng, het Dinsdag aan die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-tragedie gesê Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid in die provinsie, het haar blind gehou vir dit wat aan die gebeur was en vir hom gesê die sterftes is normaal toe hy ʼn verduideliking geëis het oor die aantal mense wat dood is.

Makhura het gesê toe hy uitvind oor die sterftes was 36 pasiënte reeds dood. Volgens hom het hy Mahlangu ingeroep en die volgende dag ʼn vergadering met haar gehou.

“Ek het ʼn vergadering met Mahlangu en haar span gehou op 16 September 2016. Ek wou ʼn verduideliking hê oor wat die sterftes veroorsaak het. Hulle het gesê dit is normaal,” het Makhura gesê.

Ten minste 143 psigiatriese pasiënte is tydens die oorplasing van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s dood. Die pasiënte wat oorgeplaas is, het gesterf van onder meer verhongering en verwaarlosing. Tot soveel as 62 van hierdie pasiënte word nog vermis. Daar is voorheen berig 59 van die pasiënte word vermis, maar dié syfer is intussen aangepas.

Makhura het erken dat hy geweet het van die beëindiging van die Life Esidimeni-kontrak, maar dat hy altyd tydens begrotingsraadvergaderings benadruk het dat hulle nié kostes moet sny aan sleuteldienste nie.

“Ons het altyd gesê as jy wil herprioritiseer gaan dit nie daaroor om koste te besnoei nie. Ons wil bevestig dat koste nooit ʼn kwessie was nie,” het Makhura gesê.

Makhura se getuienis het Mahlangu se getuienis weerspreek dat die departement van gesondheid onder finansiële druk was en die Life Esidimeni-kontrak beëindig het om koste te bespaar in opdrag van die tesourie.

Makhura het gesê Mahlangu en Barney Selebano, die voormalige hoof van die departement, het hom verseker dat alles volgens plan verloop.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het in antwoord daarop gesê: “En nou weet ons niks daarvan het ooit gebeur nie. Die LUR en die hoof van die departement het voortgegaan en Life Esidimeni gesluit. Werknemers het hulle werk verloor en pasiënte het hul lewens verloor.”

Makhura het ook gesê dat hy deur Mahlangu en Selebano verseker is dat die werknemers in die departement opgeneem sou word.

“Die moontlikheid van die opneming van daardie werkers in ʼn nuwe projek is nie onrealisties nie. Die LUR en die hoof van die departement het gesê ons het nie probleme met die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) nie. Ons weet nie hoekom jy inkom nie, ons sal aanhou om met Nehawu in gesprek te tree – dít was hulle versekering aan my,” het Makhura gesê.

Selebano en Levy Mosenogi, die projekbestuurder, het vroeër getuig dat hulle bang was vir Mahlangu toe hulle probeer het om hul bekommernis oor die projek met haar te bespreek.

Moseneke het vir Makhura gevra of hy bewus was van die feit dat die departement se werknemers deur Mahlangu geïntimideer was.

“Almal wat hierheen [die arbitrasieverhoor] gekom het, het gesê hulle is gestoomroller [deur Mahlangu]. In die vergadering wat ons gehad het, het nie een van hulle gesê hulle is deur die LUR gedwing of geïntimideer nie,” het Makhura geantwoord.

Mahlangu het tydens haar getuienis vir Selebano en Makgabo Manamela, die voormalige direkteur van psigiatriese gesondheid, blameer omdat sy beweer hulle haar mislei het en laat glo het dat alles goed verloop met die projek.

Moseneke het vir Makhura gevra of Mahlangu dit aan hom gerapporteer het. “Ek het hulle almal saam toegespreek, niemand van hulle het iets gesê dat hulle bang was of mislei is nie,” het Makhura gesê.

“Hoekom het die LUR bedank, is sy gestoot of het sy gespring?” het Moseneke gevra.

Makhura het gesê hy het altyd volgehou dat wanneer iets verkeerd gaan in iemand se werk daar gevolge sal wees en Mahlangu het glo gesê sy sal bedank indien dit nodig is.

Makhura het verduidelik dat almal individueel verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul rol in die “noodlottige projek”. Hy het ook plegtig belowe om die aanbevelings van die gesondheidsombudsman te implementeer om die tekortkominge in die departement reg te stel.

Makhura het aan die begin van sy getuienis aan die families om verskoning gevra en onderneem om vrae te beantwoord waarvan hy kennis het. Hy het die families van die pasiënte ook verseker dat hy nie die blaam sou verskuif nie.

“Ek is hier om verantwoordbaar te wees ingevolge die grondwet. Ons weet dat om verskoning te vra nie baie beteken as daar nie baie waarheid is nie. Ek hoop die families kom nader aan die waarheid. Ek sal saam met die families werk om elders geregtigheid te soek.”

Gwen Ramokgopa, die huidige LUR vir gesondheid, en Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, sal vandag getuig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

SIEK! So hyt gedink dis OK en NORMAAL dat weerlose mense sterf van honger en verwaarlosing en gewetenloosheid, omdat dit vir hom gese is? So kanmptig pass hy nie die blame niemaar hys gou om by herhaling te verwys na “hulle het vir my gese…”. Net so gewetenloos soos elkeen van sy kader ontplooide onbevoegdes.

Eish ·

Die Esidimeni skandaal is seker een van die noodlottigste gevalle van kapasiteitsgestremdheid ooit in vredestyd in die helhool.

Bertha Phillips ·

Die gebeure en sterftes kon voorkom wees. Ek het n seun daar gehad. Ons is bloot ingelig dat die pasiente verkuif word – niemand kon presies sE wanneer en waarheen nie. PasiEnte is met bussies vervoer sonder behoorlike papierwerk. Ons seun was nooit eens geregistreer vir SASA gelde nie en sy naam was al die jare verkeerd op hul rekords. So hoe is daar geld vir hom ontvang …… Wonder of hy ook een van die verlore pasiente is want ek glo nie daar was behoorlike dokumente vir sy ontslag gewees nie. Hy raak steeds ontsteld wanneer hy die nuusgebeure sien…. Hierdie is n tragedie en verleentheid vir ons almal.

Nettie ·

Onbevoegde mense in verantwoordelike poste ………………die hele lot !!

Siek en sat ·

Hierdie Mahlangu en al haar trawante moet uitgeskop word en vervolg word. Hulle is net daar vir die vet salaris en verder gee hulle nie om wat gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.