Life Esidimeni-tragedie: Geregtelike ondersoek begin vandag

Die formele geregtelike ondersoek na die Life Esidimeni-tragedie wat die lewens van minstens 144 mense geëis het, begin Maandag in die Pretoriase hooggeregshof.

Die DA het op die vooraand van die formele geregtelike ondersoek gesê almal verantwoordelik vir die sterftes moet aanspreeklik gehou word. Die opposisieparty is van mening dat dit die voormalige LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, insluit.

Jack Bloom, die DA se skaduminister vir gesondheid in Gauteng, het Sondag in ’n verklaring gesê hoewel die skuld direk voor die deur gelê moet word van die betrokke nie-regeringsorganisasies (NRO’s) waar die pasiënte gesterf het, Mahlangu en senior amptenare van die departement van gesondheid ook rekenskap moet gee van hul rol in die tragedie.

“Ek hoop dat alle relevante getuies getuienis lewer wat kan lei tot strafregtelike aanklagte teen diegene wat die sterftes veroorsaak het.”

Bloom het vroeër gesê die DA hoop dat die geregtelike ondersoek gronde aan die lig sal bring vir klagtes van moord en strafbare manslag teen beamptes van die gesondheidsdepartement en die NRO’s waar mense dood is.

Klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, oortredings van die Wet op Geestesgesondheid en die uitreiking van onwettige lisensies aan NRO’s moet volgens Bloom ook oorweeg word.

Maroela Media het vroeër berig die formele geregtelike ondersoek volg ná die arbitrasieverhoor wat ingestel is na aanleiding van aanbevelings deur die gesondheidsombudsman. Dié verhoor, onder leiding van oudadjunkhoofregter Dikgang Moseneke, is in Maart 2018 afgehandel en het bevind dat regeringsamptenare strydig met wetgewing opgetree het toe hulle die Life Esidimeni-kontrak beëindig en pasiënte na NRO’s verskuif het sonder om hul welstand en gesondheidstoestand in ag te neem.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in April 2017 altesaam 144 dossiere rakende die Life Esidimeni-tragedie ontvang. Die 144 dossiere is later in een dossier saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oomniklaassevriend ·

‘n Formele ondersoek vier jaar na ‘n tragedie en wat waarskynlik nog. vir jare gaan duur hou nie juis ‘n verskrikking in vir die skuldiges nie.

deHAS ·

MIshandeling van mense in sorg’, ou verhaal, hulle was vinnig en willig om dit te pleeg, maar hoekom stadig om dit te hanteer?

Danie ·

Dit vat ons 4 jaar om met iets te begin. 1ste wereld lande het hierdie skande binne 6 maande afgehandel. Maar nou ja, viva Afrika tyd viva.

Wielspore ·

Mense word aangestel in poste en beskik oor magte en verantwoordelikheid. Dit wil voorkom of die besluite oor Life Esidimeni-tragedie geneem is en uitgevoer deur regerings beamptes wat nie geskik is vir die werk waarvoor hulle verantwoordelik is. Die tragedie van die saak is dat mense lewens betaal het vir hierdie verkeerde besluite. Al neem dit hoe lank, geregtigheid moet sy pad loop en skuldiges aan die pen ry.

Johanna ·

MAROELAMEDIA , Julle laat dit klink of die pasiente agv Life Esidimeni gesterf het. Dis nie n Life Esidimeni tragedie nie, dis n Departement Gesondheid MOORD-SAAK wat vandag begin. Ek hoop elke Direkteur en personeellid van Dept Gesondheid wat daardie NGO besluit geneem het word toegesluit. Dis seker die grootste Skending en TRAGEDIE teenoor Mense Regte. Die persoon wat dit goedgekeur het is direk verantwoordelik vir die dood van daardie arme mense.. MENTAL HEALTH trek vir jare reeds aan die korste end in Suid Afrika. Dis n SKANDE!!
LIFE HEALTH CARE is elke jaar onderhewig aan streng Verpleegdien Bestuur Oudits volgens hoë wereld-erkende ISO Standaarde. Dit is tyd dat Dept Gesondheid ook daaraan moet voldoen en verantwoordelik gehou sal word vir kwaliteit verpleegkunde in Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.