Life Esidimeni-tragedie: ‘Jammer is nie genoeg nie’

(Argieffoto: Unsplash)

Qedani Mahlangu, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, het Dinsdag tydens kruisondervraging gesê sy is steeds “baie jammer” oor die Life Esidimeni-tragedie wat onder haar leiding tot die dood van 144 mense gelei het. Solidariteit Helpende Hand sê egter “jammer” is nie genoeg nie.

Mahlangu is tans in die tweede week van kruisondervraging in die geregtelike doodsondersoek na die tragiese gebeure wat sewe jaar gelede by Life Esidimeni plaasgevind het.

Altesame 144 mense is tussen Maart en Desember 2016 in Gauteng dood toe meer as 1 500 geestesgesondheidpasiënte na ongelisensieerde instellings oorgeplaas is waar hulle nie behoorlike sorg ontvang het nie. Die Gautengse regering het reeds R405 miljoen aan slagoffers uitbetaal.

Mahlangu getuig tans oor haar rol in die omstrede besluit wat gelei het tot die verskuiwing van hierdie pasiënte. Sy is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof deur adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondervra.

Vorster is ingevolge ʼn waaksaamheidsopdrag aangestel om die families van sommige van die Life Esidimeni-slagoffers namens Solidariteit Helpende Hand tydens die ondersoek by te staan.

“Retrospeksie is die beste onderwyser. Terugskouend kon dinge anders gedoen gewees het tydens die implementering van die plan. Ek sê weer eens ek is baie, baie jammer. Ek wens ek kan die tyd terugdraai, maar ek kan nie,” het sy in die getuiebank gesê.

Sy het volgehou dat daar nie fout was met die besluit om die staat se kontrak met Life Esidimeni te beëindig om die Gautengse departement van gesondheid geld te spaar nie, maar dat die implementering van die plan skeefgeloop het. Sy het ook gesê dat dit nie haar verantwoordelikheid was om toe te sien dat die betrokke organisasies aan al die nodige vereistes voldoen nie.

Mahlangu het wel erken dat daar nie voldoende met die pasiënte se families gekommunikeer is nie.

Dat kommunikasie baie beter kon gewees het, blyk uit die destydse ondersoeke en die gesondheidsombudsman se verslag. Die departement het destyds die families per SMS in kennis gestel dat hul geliefdes na ander instellings oorgeplaas gaan word.

“Daarom sal ek aanhou om verskoning te vra vir die dinge wat gebeur het toe ek as LUR van gesondheid aan die stuur van sake was,” het sy getuig.

René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, sê die instansie hou die verloop van die geregtelike doodsondersoek en die beslissings wat daaruit spruit fyn dop.

“Jammer is nie genoeg nie. Verbeel jou jy neem ʼn glasbord en gooi dit stukkend teen die grond. Dit lê in stukkies. Jy kyk daarna en sê “jammer”. Dit is so maklik soos dit. Maar maak dit die glasbord weer heel? Hierdie families is stukkend. Geregtigheid moet geskied,” het Roux gesê.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Sy moet strafregtelik aangekla word vir strafbare manslag want dit is waarop dut neerkom.Om die pasiënte uit te plaas om geld te spaar is onverantwoordelik.

TruthDealer ·

Wanneer ons n “Oog vir n Oog, tand vir n tand, lewe vir n lewe” paradigma ingaan. Dit is wat dit sal vat vir sekeres om bietjie respek vir die lewe van ander te hê. Only when their own survival is directly tied to the lives of the ones they co-exist with, and especially the vulnerable ones they are responsible for.

Miskruier ·

Sou genadiger gewees het as sy hul met met Midazolam behandel het. Siek, siek wereld.

Marcello ·

Dink sy nou regtig jammer, gaan die familie se hartseer laat weggaan, kla haar aan, maar dan wonder die land hoekom het Kriminele nie ontsag vir ‘n lewe nie, maar die kaders aan bewind stel die voorbeeld, en dra die beeld uit, dat jy HOEF nie waarde aan ‘n lewe te heg nie. Hoe siek is dit nie.??

Theuns ·

Hoe verskil dit van beplande “benadeling”? Hoe sterf 144 mense en die een wat dit veroorsaak sê net jammer? Kan alle mense wat verkeerde dinge doen nie ney sê ‘SORRY” nie,? Kan al die tronke sluit en polisie afskaf as hierdie ongevoelige aksies nie tot lewemslange tronkstraf lei nie. Dan is daar GEEN wet en orde nie. SKANDE EN TOETS VIR HOWE SE “ALMAL IS GELYK”. Lyk asof sommige verhewe is bo die REG. Tragedie van verval

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.