#LifeEsidimeni: Departement moet miljoene vir pasiënte betaal

verwaarloosde-hospitaal-bed

Foto: Pixabay.com

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Vrydag gesê die regering sal meer as R40 miljoen per jaar betaal vir 300 psigiatriese pasiënte in Gauteng, wanneer die departement begin om die gesondheidsombudsman se aanbevelings te implementeer.

“Die regering gaan jaarliks R46 miljoen vir 300 pasiënte betaal,” het Motsoaledi gesê terwyl die eerste groep van 27 pasiënte na Clinix Selby Park-hospitaal naby Johannesburg se middestad oorgeplaas is. Dié groep vorm deel van 300 psigiatriese pasiënte wat uit ongelisensieerde nieregeringsorganisasies geskuif word.

Clinix Health Group besit en bestuur sewe privaat hospitaal oor die land heen wat spesialiseer in kraam- en voorgeboortelike klinieke, neonatale intensiewe sorg, radiologie- en patologiedienste met teaters, intensiewesorgfasiliteite en apteke.

Die Selby-hospitaal het ʼn groep sielkundiges, twee voltydse dokters, ʼn maatskaplike werker en sal nog personeel byvoeg wanneer die res van die 300 psigiatriese pasiënte oorgeplaas word.

Motsoaledi het aan verslaggewers by die hospitaal gesê die provinsiale departement hanteer die oorplasings soos gestipuleer deur die gesondheidsregulasies en aanbevelings deur die gesondheidsombudsman.

Meer as 100 psigiatriese pasiënte is tussen Maart en Desember 2016 in Gauteng dood, onder andere weens nalatigheid en hongerte, toe die provinsiale departement van gesondheid hulle van Life Esidimeni na nieregeringsorganisasies oorgeplaas het om geld te bespaar.

Die NRO’s het na Life Esidimeni gegaan en meer as 1 000 pasiënte opgelaai en hulle sonder lêers, enige diagnose of die nodige bestanddele wat gehaltegesondheidsorg sou verseker, oorgeplaas.

Malegapuru Makgoba, gesondheidsombudsman, het in ʼn verslag ná die ondersoek gesê die NRO’s het nie geldige lisensies gehad nie en die oorplasings was “onwettig en twyfelagtig”.

Qedani Mahlangu, LUR vir gesondheid in daardie stadium, het bedank voor die veroordelende verslag vrygestel is en die hoof van die Gautengse departement, Barney Selebano, geskors is.

Die nuut aangestelde LUR vir gesondheid, Gwen Ramokgopa, het gesê die aanklagte teen Selebano word teruggetrek en die ondersoek is byna afgehandel. “Die hoof van die departement is geskors kragtens die Wet op Arbeidsverhoudinge. Hy is voorlopig geskors volgens die aanbevelings van die ombudsman en die klagtes word afgehandel,” het Ramokgopa gesê.

Sy het gesê die departement onderhandel verder met talle privaat gesondheidsorggroepe om ongeveer 700 pasiënte van ander NRO’s oor te plaas.

Lees alle vorige berigte oor Life Healthcare Esidimeni op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Esme Strauss ·

Wonder net of daar nou onderskeid getref word tussen psigiatriese pasiente en gestremde pasiente.

Johannes van Staden ·

Dis die een ding op die volgende skandes, leuns, leë beloftes , onbevoegdheid …die huis kaarte is BAIE wankelrig nou. En die ergste van alles hulle blameer almal anders behalwe hulle self .. en siedaar daar kos jou slim plan die land miljoene meer om nie eers te praat van n reputasie wat geskaad is en die lewensverlies van die 94 mense .. reputasie is eintlik niks van oor nie ons en ons almal weet alles staat is uiters pateties … SAA , poskantoor, prasa , sassa om nou maar n paar te noem …daar is NIKS oor wat werk nie ! SA verdien sy rommel status loshande nou.

E.K. - ek sê net! ·

Met ander woorde…ons, die belastingbetaler betaal eintlik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.