Lig in tonnel vir familie van vermoorde 10-jarige

Die bedroefde familie van die vermoorde 10-jarige, Lihle Zenzile (Foto: Facebook/Action Society)

Ná byna ʼn jaar van uitstel is daar uiteindelik lig in die donker tonnel vir die bedroefde familie van die 10-jarige Lihle Zenzile nadat die man wat van haar moord aangekla word – haar 18-jarige neef, Ayabulela Zenzile – geestelik geskik verklaar is om te pleit.

Maroela Media het vroeër berig dat die jong meisie in Januarie verlede jaar wreed by haar huis vermoor is. Die verdagte het ten tyde van haar moord by Lihle en haar ouers in die Paarl gewoon. Hy het haar liggaam na bewering in ʼn trommel onder haar ouers se bed versteek nadat hy haar doodgewurg het.

Die verdagte het hom op dieselfde dag aan die polisie oorgegee en vir hulle die trommel gewys waarin hy haar liggaam versteek het.

Lihle Zenzile (Foto: Facebook/Action Society)

Tot uiterste frustrasie van die gebroke familie het die hof egter in Oktober verlede jaar beslis dat die verdagte eers vir sielkundige waarneming gestuur moet word.

Kaylynn Palm, woordvoerder van Action Society, sê ná ʼn baie lang en moeilike tyd “en skynbare vertragingstaktiek deur die verdagte” is die sielkundige verslag vir die beskuldigde eindelik Dinsdag by die staat ingedien, wat bevestig dat hy geskik is om op Lihle se moord tereg te staan.

“Haar familie ervaar tans bittersoet emosies, want niks kan haar terugbring nie, maar ʼn klein stappie in die lang pad na geregtigheid is eindelik geneem.

“Aan die een kant is ons tevrede met die deurbraak, maar dit voel ook of ons voortdurend op die agtervoet baklei.

“Geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat ontken word. Ons sal egter nie ingee nie, maar tot die bitter einde veg totdat ons hierdie monster lewenslank agter tralies sien,” sê Palm.

Die verdagte sal weer op 17 Mei in die Paarl-streekhof vir ʼn pleitooreenkoms verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Die mooi kind het dit virseker nie verdien nie….Here wees ons genadig in hierdie bloed bevlekte land

Leeubekkie ·

Rus in vrede by Jesus se voete, Lihle.
Mag haar familie nou berusting vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.