Liggaam by Pta-laerskool gevind

Argieffoto

Argieffoto

Die liggaam van ʼn man, glo in sy vroeë 30’s, is Maandagoggend by ʼn Pretoriase laerskool gevind.

Klaas van der Kooi, eienaar van Kilnerpark Security in Pretoria se Moot-omgewing, het aan Maroela Media gesê twee inbrekers het vermoedelik Sondagaand ʼn paar huise vanaf die Laerskool Wonderboom-Suid probeer inbreek.

“Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit en een van hulle het na bewering oor die skool se heining gespring om weg te kom,” het Van der Kooi gesê.

Die verdagte is deur terreinwerkers wat by die skool bly, betrap en aangekeer. Kilnerpark Security is kort daarna ontbied.

“Ons het drie voertuie na toneel ontplooi. Die polisie is in kennis gestel, maar het lank gevat om op te daag. Aangesien die toneel veilig en onder beheer was, het die beamptes gery en die verdagte lewend agtergelaat.”

Van der Kooi het gesê hulle is vanoggend ingelig ʼn liggaam, vermoedelik dié van die vermeende inbreker, is by die skool gekry.

Ao. Hero Gumbu, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is omstreeks 06:00 in kennis gestel ʼn liggaam van iemand wat vermoedelik aangerand is, is by die skool gevind.

“Die Pretoria-Moot-polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die veiligheidswagte en die betrokke terreinwerkers word ondervra,” het Gumbu gesê. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Van der Kooi het gesê hulle gee hul volle samewerking aan die polisie met hul ondersoek.

Maroela Media het die Gautengse departement van onderwys genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Jessica ·

Ja nee met die nuwe generasie Saps moet publiek help. My man is n polisieman van die vorige generasie waar die polisie nog ge-“serve nd protect” het. deesdae kan hul ni eens n id sertifiseer sonder om n fout te maak ni wat nog kriminele vastrek. SO GEMEENSKAPPE MOET INGRYP.

Ilze ·

Dankie Klaas dat jou mense ons elke aand veilig laat voel. Altyd flink en vinnig daar as mens hulle nodig kry

Ronel ·

Wil inbreek en weg hardloop. Dit is wat hy is, ‘n lafaard. Nou sal hy nie meer kan steel nie.
Kilnerpark Sekuriteitsmense lewer puik diens en is altyd voor die Polisie op ‘n toneel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.