Liggaam eers dae ná vrou se dood ontdek

(Argieffoto: Pixabay)

Die liggaam van ʼn vrou is in haar huis in Hercules in Pretoria gevind etlike dae nadat sy reeds gesterf het.

Die vrou se liggaam is Sondagmiddag in haar huis gevind. Dit het reeds begin ontbind.

Leon Kruger, bestuurder van die Hercules Spar in Mootstraat waar die vrou werksaam was, het bevestig dat sy vir ʼn week met verlof was. Sy was volgens Kruger nie siek nie.

Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Na verneem word, is daar ondersoek by die vrou se huis ingestel nadat sy vir ʼn geruime tyd nie meer by die werk opgedaag het nie.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is belangrik dat mense nie net vra hoe dit met ander kwesbare persone gaan nie, maar ook wéét hoe dit met hulle gaan.

“ʼn Gemeenskap se gewete mag nie afgestomp raak nie. Dit is verskriklik as so iets gebeur,” het Noëth gesê.

Hy sê mense moet self verantwoordelikheid aanvaar om iemand op die hoogte van hul welstand te hou. Dit gebeur veral dat iemand van ander mense wegbly wanneer hulle mismoedig voel. “Moenie jouself onttrek nie. Jy moet ook verantwoordelikheid aanvaar om vir ander mense te sê ‘ek is oukei’.

“Aan die ander kant het ons ook ʼn verantwoordelikheid om na ons omgewing te kyk en te vra of daar dalk iemand is wat kwesbaar is,” het Noëth gesê.

“Dit is ontstellend as iemand ʼn week lank dood is en niemand kom dit agter nie.”

Hy sê hoewel dit makliker is om diegene naaste aan jou, soos jou familie, deurlopend in gedagte te hou, moet die samelewing ook meer ingestel wees op mense wat buite hul kring val.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek geen klagte nie omdat die vrou aan natuurlike oorsake dood is. Geen vuilspel word vermoed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

Skreiende skande hoe ons as mens nie omgee oor ander nie. Ek kan nie glo dat daai arme vrou deur niemand gemis was nie.

Desere ·

Dis my familie en ek vra dat julle asb nie negatiewe komentaar lewer ni

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.