Liggaam gevind ná boot by Oudekraal omslaan

Die NSRI sê dit is onduidelik hoeveel mense aan boord van die boot was, wat beteken hulle is nie seker hoeveel mense nog vermis word nie.

Die liggaam van ʼn man is in die see in die omgewing van Bakoven naby Kaapstad gevind, nadat hy vermoedelik op ʼn boot was wat Donderdag in die vroeë oggendure in dié omgewing omgeslaan het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die man se liggaam is na die NSRI-basis by Bakoven geneem waar paramedici hom dood verklaar het. Die liggaam is daarna aan die polisie oorhandig.

ʼn Grootskaalse soektog is vanoggend op tou gesit ná berigte dat tot nege mense ter see vermis word nadat die boot omgeslaan het. Die soektog fokus op die gebied tussen Mouillepunt en Oudekraal.

ʼn Helikopter van die lugmag het kort tevore twee mans lewend uit die see opgepik en na ʼn tydelike landingsone by Clifton gevlieg, waar paramedici hulle ingewag en behandel het, het Lambinon gesê.

Hulle is vir hipotermie behandel.

Lambinon het gesê die soektog na die oorblywende vermistes is in dié stadium drieledig. Daar word ter see, asook op die strand en land na die vermoedelik ses vermiste mense gesoek, én ondersoekers probeer ook vasstel of enigiemand wat op die boot was moontlik intussen al teruggekeer het huis toe.

Die boot waarop die mense was, is vanoggend gedeeltelik onder water naby Mouillepunt gekry. Dit is intussen na die polisie se skut by die Kaapstad-hawe gesleep.

Lambinon het namens die soek-en-reddingspanne medelye met die slagoffer se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frannie ·

Hartseer soos dit is, maar ek lees op ander blaaie dat hierdie mense perlemoenstropers is/was. Alhoewel ek simpatie het, voel ek vies ook dat hulle besig was met onwettighede. Is dit nie ons as lesers se reg om dit ook te weet nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.