Liggaam gevind ná boot oor damwal stort

Christo Fritz en sy lewensmaat, Antoinette Zandberg. (Foto: Facebook)

Die liggaam van Christo Fritz (28), die man wat sedert Saterdag vermis word nadat die boot waarmee hy en ʼn vriend op die Roodeplaatdam gaan ry het oor die damwal gestort het, is gevind.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê soek-en-reddingspanne het die liggaam gevind en ʼn herwinningsoperasie is van stapel gestuur.

Fritz en Deivan Rust, eienaar van DRM Projects, het Saterdagmiddag Rust se boot op die dam gaan toets toe die enjin glo naby die damwal uitgesny en die water die boot oor die damwal laat stort het.

Rust is in die voorval beseer maar is lewend gevind en het hulp ontbied. ʼn Grootskaalse soektog na Fritz is dadelik van stapel gestuur en lede van die Tshwane-nooddienste, sowel as vrywilligers, het sedertdien onophoudelik na hom gesoek.

ʼn Wrakstuk van die boot is Sondag gevind, maar daar was in daardie stadium geen spoor van Fritz nie.

Sy lewensmaat van nege jaar, Antoinette Zandberg, het vroeër gesê sy klou vas aan die hoop dat hy lewend gevind sal word. Zandberg sê haar laaste boodskap aan Fritz het Saterdag omstreeks 19:00 deurgegaan. Sy is Sondag vroegoggend, rasend van bekommernis, na Rust se huis om na die twee mans te gaan soek nadat sy aanvanklik vermoed het die boot het dalk sonder brandstof op die dam gaan staan.

‘n Groot soektog na Fritz is die naweek van stapel gestuur. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Sy het kort daarna egter verneem dat die boot oor die damwal getuimel het en dat Fritz vermis word.

Die paartjie het drie kinders van onderskeidelik twee, vyf en sewe jaar oud en Zandberg het vroeër gesê dit word al hoe moeiliker om vir hulle te probeer verduidelik waar hul pa is. Sy sê sy het die afgelope ruk ook geweldige ondersteuning van familielede en vriende gekry.

Volgens die Tshwane-nooddienste staan die dodetal ná die naweek se stormreën in die Pretoria-gebied tot dusver op vier. Die liggaam van ʼn man, vermoedelik die bestuurder van ʼn voertuig wat vroeër in die Centurion-omgewing deur vloedwater meegesleur is, is ook vroeër vandag gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariaan ·

Tragies! Maar mense vat kanse en beweeg te naby aan die damwal…soos met die onderwysers-paartjie ook nou die dag….wees maar liewers “bang jan”….ons was Des by Gariepdam..ook n motorboot wat skrikwekkend naby aan daai reuse damwal gery het…as daai motor ingee..het jy GEEN kans…jammer vir hierdie familie se hartseer

DieKriek ·

Roodeplaat het n damwal? Slaat my dood en sleep my weg, ek bly al 20 jaar in die omgewing en het dit nooit besef nie. Dis bitter hartseer as iemand so verdrink.

Waarnemer ·

Wanneer gaan mense ooit leer dat water nie n man se speelmaat is nie.. Waar swaar reen geval het bly jy weg van lae brue en oorvol damme en riviere!!!My sumpatie met die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.