Liggaam gevind tydens soektog na vermiste drawwer

Kenneth Stephen.

ʼn Liggaam is Woensdagmiddag op Tafelberg gevind tydens die soektog na Kenneth Stephen.

Stephen (36) het glo Maandag omstreeks 14:30 gaan draf, maar nooit teruggekeer nie. Sy motor is laat Maandagaand in die pad in die omgewing van die Platteklip-ravyn gevind waarna ʼn reusesoektog na hom van stapel gestuur is.

Volgens Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), is ʼn liggaam vanuit ʼn helikopter op Tafelberg gewaar tydens die soektog na Stephen.

“Die liggaam het soortgelyke klere aan as die beskrywing wat ons gekry het van die vermiste persoon.”

Volgens Marais sal ʼn paramedikus met ʼn helikopter na die toneel vervoer word. “Ek kan in die stadium geen verdere inligting gee nie.”

Talle soek- en reddingspanne het laat Maandagaand na Stephen begin soek. Die weerstoestande was nie gunstig nie en kort na middernag het sy familie laat weet dat dit blyk dat sy selfoon aan Clifton se kant van Leeukop is. ʼn Soektog in die omgewing het egter ook geen vrugte afgewerp nie.

Die soektog is Dinsdag met minstens 16 soek- en reddingspanne hervat. Talle vrywilligers het ook by die soektog aangesluit nadat dit Woensdagoggend weer hervat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Hekwag…..jy sal nie glo hoeveel gemors wandel nou die draf roetes met messe, pangas en byle. Amper nou te gevaarlik om alleen te gaan draf of stap, en self in ‘n groot groep kom jy nie altyd daarmee weg dat hulle nie beursies, sakke en selfone gryp nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.