Liggaam in brandende kar: Polisie ondersoek moord

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat die liggaam van ʼn man Maandagoggend in die kattebak van ʼn gebrande motor in Floridapark, Johannesburg, gevind is.

“Die motor het steeds gebrand toe die polisie by die toneel opgedaag het,” het maj. Mack Mngomezulu, polisiewoordvoerder, gesê. “Die man se liggaam is in die kattebak aangetref nadat die brand geblus was. Sy hande was agter sy rug vasgebind.”

Mngomezulu het gesê die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

“Die oorsaak van die man se dood moet nog bepaal word. Die liggaam is onherkenbaar verbrand.”

Die polisie is 04:00 na die toneel in Kerkstraat ontbied. Hulle kon sover vasstel dat die motor aan ʼn chemiese maatskappy in Randburg behoort.

“Dit is onduidelik of die man ʼn werknemer by die maatskappy is. Sy identiteit sal deur verdere ondersoek bepaal word,” het Mngomezulu bygevoeg.

Die Johannesburgse nooddienste het vroeër gesê die liggaam het nie heeltemal verkool nie, en kon uitgeken word. “Die saak is aan die polisie oorgegee vir verdere ondersoek. Daar was niemand anders op die toneel met die paramedici se aankoms nie,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, gesê.

Die oorsaak van die brand is onbekend en word ook ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.