Liggaam in plastieksak by gholfbaan gevind

(Argieffoto: SAPD/Facebook)

Die polisie op Ficksburg sê hulle benodig die samewerking van die gemeenskap nadat ʼn man se ontbinde liggaam Donderdag in ʼn klein dammetjie by die Ficksburg Gholfklub gevind is. Die liggaam het glo in die water gedryf.

Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die polisie het verskeie klagtes van die publiek ontvang oor ʼn wit plastieksak wat in die dam by die gholfklub dryf en vermoedelik ʼn mens se liggaam bevat.

“Die polisie het by hul aankoms op die wit plastieksak in die dam afgekom, dit ondersoek en die liggaam van ʼn man daarin gevind.

“Die oorledene het ʼn groen T-hemp, blou jeans en wit tekkies aangehad. Daar was ook stene van sandsteen in die plastieksak. Die oorledene is tussen 15 en 25 jaar oud en is nog nie geïdentifiseer nie.

“’n Saak van moord word ondersoek,” sê Mophiring.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verdagte(s) kan lei word versoek om kapt. Lebakeng van die Ficksburg-speurdiens by 079 897 7144 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.