Liggaam in pyplyn dié van vermiste kind

Argieffoto. (Foto: JOE RAEDLE / GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die liggaam wat in Julie in ʼn waterpyplyn in Hofmeyr in die Oos-Kaap gevind is, is geïdentifiseer as dié van ʼn agtjarige meisie wat verlede jaar vermis geraak het.

Volgens kapt. Lariane Jonker, polisiewoordvoerder, het die polisie DNS van die vermiste meisie, Zinathi Ntuzakhe, by haar biologiese ma gekry. Dié het toe ooreengestem met die DNS van die oorskot wat in die pyplyn gevind is.

Zinathi is op 23 Desember by die Hofmeyr-polisiestasie as vermis aangemeld nadat sy die huis verlaat het om by ʼn plaaslike winkel lekkers te gaan koop.

Die polisie het haar liggaam op 12 Julie in die pyplyn ontdek, terwyl hulle besig was om ʼn ander saak te ondersoek.

“Die polisie het op 7 April inligting ontvang oor ʼn 23-jarige vrou wat in ʼn watervoorsieningspyplyn in Hofmeyr vasgekeer was. Die vrou is uit die pyplyn gered en sy het beweer dat sy deur ʼn man verkrag en in die pyplyn gegooi is,” sê Jonker.

“ʼn Saak van poging tot moord en verkragting is aanhangig gemaak en ʼn 20-jarige man is kort daarna in verband met die voorval in hegtenis geneem.”

Tydens die hofverrigtinge het die staatsaanklaer versoek dat die diepte van die pyplyn bepaal word. Die polisie het ondersoek ingestel en dit is toe dat Zinathi se liggaam gevind is. Die liggaam is gestuur vir forensiese toetse.

Nadat die liggaam as dié van Zinathi geïdentifiseer is, is ʼn saak van moord aanhangig gemaak. Die saak word deur die polisie op Cradock se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende moordenaar(s) kan lei, kan sers. Michael Qhagana by 082 319 8362 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JM ·

Kan dinge waaragtig erger gaan as in Suid-Afrika?! ‘n Mens word by die dag met meer afgryse vervul. Gaan dit ooit beter word? Sommige mense het monsters geword!

piet ·

Gebeur in ander lande ook, jy hoor net nie daarvan nie. Nie uniek nie.

JohanR ·

Die storie van die ANC se Suid Afrika…..gebruik en weggesmyt!

Elinette ·

Hoekom dink ek dat die een wat die vrou verkrag en in die pyplyn gegooi het, dalk dieselfde een is wat die kind daarin gegooi het nadat hy haar (waarskynlik) verkrag en toe vermoor het?

Hardekwas ·

Ek dink dit is tans baie veiliger in Afghanistan as in suid afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.