Liggaam in veld wel dié van oud-Koevoetlid

Chris Barnard

Die liggaam wat Dinsdag in ʼn veld buite Pretoria gevind is, is positief geïdentifiseer as dié van die oud-Koevoetlid Chris Barnard (54).

AO Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, het bevestig Barnard se liggaam is uitgeken aan ʼn tatoeëermerk van sy dogtertjie op sy rug en met tandheelkundige rekords. Volgens Van Dyk moet die nadoodse ondersoek nog die oorsaak van Barnard se dood bepaal.

Die erg ontbinde liggaam is vroeër Dinsdag deur ʼn lid van die publiek naby die Wallmansthal-weermagbasis net buite Pretoria gevind. Dit was in ʼn duvet toegedraai.

Barnard is in Desember die laaste keer in die Sinoville-omgewing in Pretoria gesien. Sy familie het hom op 7 Desember as vermis aangemeld en ʼn uitgebreide soektog na hom is van stapel gestuur.

Barend Roos, eienaar van Nolisat Investigations, sê hulle is deur die polisie genader om met die ondersoek na Barnard se verdwyning te help.

Roos en sy span het onder meer gehelp om selfoondata te analiseer en ander inligting na te gaan wat die polisie na drie verdagtes gelei het.

Barnard, wat in Irak in die veiligheidsbedryf gewerk het, het in Desember vir ʼn kort vakansie na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het vroeër aanlyn bevriend geraak met ʼn vrou wat nou by sy verdwyning betrek word.

Die vrou, Corné de Beer (33), is op 24 Desember in hegtenis geneem en twee mans, Richardt Botha (35) en Wayne van der Walt (35), is op 30 Desember aangekeer. Barnard se voertuig is by hulle gevind, asook sommige van sy persoonlike besittings. Daar is sedert sy verdwyning reeds duisende rande uit Barnard se bankrekening onttrek.

Die drietal het reeds in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal. ʼn Klag van moord is later ook teen hulle aanhangig gemaak, al was Barnard se liggaam toe nog nie opgespoor nie.

Die toneel waar Barnard se liggaam gevind is. Foto: Verskaf

Volgens Roos is onder meer na Barnard se Facebook-profiel gekyk en dit het weer daartoe gelei dat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras bekom is wat lig gewerp het op van Barnard se laaste bewegings. Nadat geld uit sy bankrekening onttrek is, is inligting in die verband ook opgevolg en het dit uiteindelik tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei.

Die drie verdagtes het egter na hul inhegtenisneming geweier om te sê waar Barnard hom moontlik bevind en of hulle by sy verdwyning betrokke was. Hulle wou ook nie sê waar hulle aan sy voertuig kom nie.

Roos het gesê grootskaalse soektogte het hierna gevolg waartydens daar in bosse, spruite en op kleinhoewes na Barnard gesoek is.

“Ons het aanvanklik in ʼn enorme gebied gesoek en soos wat die ondersoek vorder, kry jy inligting en begin jy die gebiede waar jy soek al hoe meer afskaal. Ons het etlike kilometers agter inligting aangery.” Nolisat Investigations was gratis by die ondersoek betrokke.

Barnard het met sy terugkeer na Suid-Afrika in ʼn familielid se huis in Annlin gewoon terwyl dié familie met vakansie was. Met hul terugkeer het hulle die huis geplunder gevind.

Die verdagtes het tydens hul laaste hofverskyning verlede maand hul borgtogaansoeke laat vaar. Hulle moet weer op 21 Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

HOOP ·

Werk die SAPS dan nie saam Bolhuis nie . Dankie Nolisat vir julle gratis diens , hoop daai 3 word “gepamper” in hulle sel.

Plaaskind ·

Wys asb hul gesigte sodat ons kan sien hoe lyk die monsters……

René van Hermanus ·

“Online” dates, verhoudings noem dit wat jy wil is ‘n besliste NEE in alle opsigte.

Paula ·

Mense moet begin verstaan dat daar so baie skermunkels daarbuite is. Moenie liefde op fb of enige ander sosiale netwerk soek nie. Ek al 5 jaar “skoon” . Sosiale netwerke is vol valsheid en leuens. Spaar jouself dit en word deel van die wêreld om jou. Ontdek alles wat mooi is om jou. Plant blomme, bome en groente. Lê (Bottel)in wat jy plant. Soveel beter as om jou tyd en energie in tegnologie in te ploeg. Leef jou lewe. Môre kom dalk nie.

Hermann P ·

Net n vraag. Het hy nie destyds geweier om aan die destydse “ beskuldigte afrikaner kommissie” deel te neem nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.