Liggaam ná swaar reën in Overberg uit rivier gebring

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Nadat swaar reën oor groot dele van die Wes-Kaap uitgesak het, het polisieduikers ’n liggaam uit die Buffeljagsrivier naby Swellendam geduik.

Die liggaam van ’n onbekende man is Saterdagoggend uit die rivier gebring voordat paramedici hom op die toneel dood verklaar het.

Ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie op Swellendam doen ’n geregtelike doodsondersoek.

Groot opruimingswerk is tans aan die gang in die Wes-Kaap waar swaar reën vanaf Dinsdag uitgesak het. Die reën het groot vloede meegebring. Verskeie damwalle het gebreek.

Die ongunstige weer het sedertdien effens opgeklaar. Nog reën word egter die komende week verwag.

Die Stad Kaapstad het Saterdag gesê sy paaie- en infrastruktuurbestuursdienste sal opvulmateriaal aan inwoners verskaf om te help om wonings se vloere te lig. Toerusting en hulpbronne om dreineringskanale skoon te maak sal ook in die geraakte gebiede verskaf word.

Kapenaars word intussen aangeraai om slote te grawe om vloedwater na stormwaterstelsels te herlei.

Die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings se afdeling vir die bestuur van informele nedersettings help tans met die hervestiging van geraakte huishoudings waar moontlik.

Die metro se paaie- en infrastruktuurbestuursdienste het ook aandag gegee aan die modderstorting by Hangberg in Houtbaai, wat twee private eiendomme geraak het, en die gebied is intussen opgeruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.