Liggaam op Paarlberg dalk dié van vermiste man

Elmar Knoetze (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse polisie het Donderdag bevestig dat ʼn lykskouing gehou sal word om vas te stel of die liggaam wat Dinsdag deur stappers op Paarlberg in dié provinsie aangetref is, moontlik die liggaam van die vermiste Elmar “Faffa” Knoetze is.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, sê dié liggaam is deur ʼn groep natuurbewaarders aangetref wat op patrollie op die berg was.

Sy sê die liggaam was reeds in ʼn ontbinde toestand. “Die polisie is na die toneel ontbied waarna die man se liggaam van die berg verwyder is,” sê sy. “Daar is egter nog geen bewyse dat die liggaam wel dié van Knoetze is nie.”

Du Plessis kon nie gerugte op sosiale media bevestig dat ʼn lykskouing eerskomende Vrydag (13 April) gehou word nie.

Maroela Media het vroeër berig die 45-jarige Knoetze, ʼn passer en draaier wat instandhoudingswerk vir KWV doen, het op 29 Maart onder raaiselagtige omstandighede verdwyn. Knoetze het volgens Ronel Bence, ʼn familievriend, op die dag van sy verdwyning sy huis verlaat om te gaan stap.

Bence het vroeër aan Maroela Media gesê Knoetze was volgens kringtelevisiebeeldmateriaal om 06:00 vinnig by ʼn winkel van ʼn plaaslike vulstasie in om sigarette te koop en is om 07:00 weer op die Langenhovenpad, in die rigting van die Du Toitskloof-berg, opgemerk.

Volgens Bence is dit nie in Knoetze aard om bloot te verdwyn nie. Die polisie kon sedertdien nog geen verdere leidrade oor sy verdwyning kry nie. Knoetze en sy vrou, Tania, het twee kinders, onderskeidelik ses en 12 jaar oud, wat volgens die familie ook albei bid vir hul pa se veilige terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kas ·

As hulle nou nog niks van Faffa gehoor of gesien het nie is die kanse seker goed dat dit sy lyk is wat gekry is.Die nadoodse ondersoek sal seker die oorsaak van dood bevestig maar hoekom vermoed ek gemene spel.

Selfbeskikking ·

Jy vermoed gemene spel met goeie rede want ons bly in een van die geweldadigste lande in die wereld, en ons kan dit verander deur om te onderhandel vir ons eie land, wat veilig sal wees. Dit is ons enigste opsie om weer menswaardig te wees en nie heeltyd uitgehaal te word nie.

Lientjie ·

Ek neem aan hy was poedel nakend gewees. Julle gee sy klere beskrywing indie iemand hom gesien het. Die lyk, maak nie saak in watter stadium van ontbinding nie, hy moet mos nog sy klere aan he, bril , horlosie, skoene????????

Mvn ·

Ek stem ja, en as geen Horlosie of skoene dan was hy tien teen een beroof.

Francois Joubert ·

Die plaaslike koerant, Paarl Post, het bevestig dat die klere ooreen stem.

kas ·

Mense van die WES KAAP kan my help.Wat is die afstand tusse DU TOITSKLOOFBERG EN PAARLBERG.Jammer ek vra maar ek ken nie die Kaap nie,ek is ‘n Transvaler.

Francois Joubert ·

Paarl is ‘n lang dorp (skuus, deesdae ‘n stad) met die langste hoofstraat in SA. Du Toitskloof is in die rigting van Denneburg woonbuurt (waar die persoon gewoon het) en Paarlberg is aan die anderkant van die dorp oorkant die dun gedeelte van die dorp. Die vorige inligting dat die persoon in in die rigting van Du Toitskloof opgemerk is teenoor waar hy gevind is bo-op Paarlberg is dus erg teenstrydig.

Riana ·

Hoop die familie kry vinnag antwoorde. Kerkstraat in Pretoria( Tswane) is die langste reguit hoofstraat in ons land en in die wereld.

Francois Joubert ·

Die liggaam is intussen deur sy vrou uitgeken.

Wikitravel dui aan dat Paarl se hoofstraat 12km lank is en wel die langste hoofstraat is in Suid Afrika.
Kerkstraat is inderdaad 26km lank, maar word beskryf as een van die langste en reguitste strate ter wereld.
Hulle ag dit dus nie ‘n hoofstraat nie.
So het ek ook iets nuuts geleer, dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.