Liggaam op Tafelberg uitgeken

Henry Gerald Viljoen Harris.

Henry Gerald Viljoen Harris.

Die identiteit van die persoon wie se liggaam voorverlede week op Tafelberg gevind is, is bekend gemaak.

Kapt. Ezra October, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die oorledene is as Henry Gerald Viljoen Harris (57) geïdentifiseer.

Volgens Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, is Harris op 8 Junie as vermis aangemeld. “Hy is oorspronklik van Gauteng en het in ʼn gastehuis in Kampsbaai tuisgegaan terwyl hy glo werk in Kaapstad gesoek het,” het Rechner gesê. “Hy het al sy besittings by die gastehuis gelos en ʼn saak is aanhangig gemaak toe hy nie daarheen teruggekeer het nie.”

Harris het volgens October aan die eienaar van die gastehuis gesê het dat hy Tafelberg toe gaan. Hy het slegs ʼn enkelkaartjie gekoop.

Sy liggaam is op 17 Junie deur ʼn voetslaner in die omgewing van Arrow Final naby die India Venster-roete gevind. Weens slegte weer kon die liggaam eers die volgende dag verwyder word. Hy het glo na raming sowat 200m ver geval.

Harris het nie identifikasie by hom gehad nie en is later uitgeken aan die klere waarin hy laas gesien was. October het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen. “Daar waas geen notas of briefies tussen sy besittings of op die toneel waar sy liggaam gevind is nie.”

Intussen is daar steeds geen spoor van die vermiste Taro Spies (25), die ervare bergklimmer van Muizenberg, nie. Spies is op 12 Mei die laaste keer gesien en sy motor is die volgende dag naby Tafelberg gevind. Daar is vermoed dat hy gaan bergklim het.

Ná uitgebreide soektogte waarby sowat 50 mense, insluitend reddingsklimmers betrokke was, kon niemand daarin slaag om enigiets te vind nie en is die soektog na hom afgelas. Talle gebiede rondom die berg, insluitend gevaarlike terrein, is tydens die soektog gedek. Reddingspanne, waaronder honde-eenhede, het verskeie dele van Duiwelspiek, die Gewelberge, Oranjekloof in Houtbaai en die laer berghange van Vredehoek gefynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raymond Searson ·

Tafelberg is kort op die hakke van MT Everest as die berg wat die meeste lewens eis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.