Liggaam uit kloof by De Doorns gehaal

Die AMS-helikopter (Foto: Verskaf)

Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het vandeesweek op ʼn liggaam in ʼn kloof in die suide van De Doorns in die Wes-Kaap afgekom.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig die liggaam is dié van ʼn man. Die liggaam is egter erg ontbind en die man sal deur middel van ʼn DNS-ontleding geïdentifiseer word.

Volgens David Nel, woordvoerder van WSAR, het die reddingspan reeds Maandagmiddag die liggaam in die kloof gewaar. Die span moes egter voor sononder na hul basis terugkeer en die reddingsoperasie die volgende dag voortsit.

Nel sê ʼn AMS-reddingshelikopter is Dinsdag, nadat die vroegoggendmis gaan lê het, na die kloof ontbied. ʼn Paramedikus en tegniese reddingswerker is deur die helikopter in die baie nou kloof laat afsak.

“Die helikopter het op ʼn tydelike landingsone op ʼn sportveld in die dorp gaan land en later weer die reddingswerker en paramedikus gaan haal, nadat hulle die liggaam herwin het,” vertel Nel.

Die liggaam is aan die polisie oorhandig.

Rwexana sê die polisie is nog besig om die saak te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.