Liggaam van kind in dam gevind

Argieffoto

Argieffoto

Ná ʼn week lange soektog na twee kinders wat in Hanoverpark en Kraaifontein in Kaapstad verdwyn het, is ʼn kind se liggaam op Nuutgewek-plaas se dam in Botfonteinweg in Kraaifontein opgespoor.

“ʼn Lid van die gemeenskap het die polisie Saterdag omstreeks 17:00 ontbied nadat ʼn kind se liggaam in die dam opgemerk is,” het kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Die klere van die oorledene is soortgelyk aan die beskrywing van die seun wat in Wallacedene in Kraaifontein verdwyn het. “Die polisie kan egter nog nie in hierdie stadium bevestig dat dit wel die vermiste seun is nie,” het Kinana benadruk. “ʼn Ondersoek sal gedoen word om te bepaal of dit die vermiste vierjarige seuntjie is.”

Kinana wou ook nie spekuleer oor die oorsaak van die kind se dood nie.

“Lede van die publiek word gemaan om die ondersoekbeamptes en ander rolspelers die geleentheid te bied om hul werk af te handel sonder enige spekulasie, aangesien dit die prosesse en uitslag van die ondersoek kan benadeel.”

Die polisie versoek enigiemand met inligting om ao Andrews by 072 574 2341 te skakel.

Bukho Mlityalwa (4) het Woensdag naby sy huis saam met maatjies in ʼn park gespeel toe hy verdwyn het. Dessie Rechner van die Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste persone op te spoor, het gesê Bukho het ʼn swart sweetpakbaadjie, rooi en wit-broek en rooi waterstewels aangehad toe hy verdwyn het. Eyewitness News het vroeër berig Bukho se gesin is besorg dat hy dalk in ʼn waterafvoerpyp geval het.

Die polisie is ook nog op soek na die sesjarige Shasha-Lee November wat verlede Sondag in Hanoverpark verdwyn het. Shasha-Lee het naby haar ouerhuis gespeel toe sy spoorloos verdwyn het. Die soektog duur voort.

Bukho Mlityalwa

Bukho Mlityalwa

Shasha-Lee November

Shasha-Lee November

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Hoeveel kinders moet nog vermoor of verkrag of mishandel word voordat ons regering en ons regstelsel gaan ingryp?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.